Twee wiele nou beter as vier
2008-06-19
HY spaar R1 800 ’n maand deur met sy bromponie in die Paarl en Wellington rond te flits vir sy werk. So vertel Christopher Faro, ’n fotograaf van Wellington, met genoegdoening. Sy bromponie kos hom R150 per tenk, R300 per maand en hy ry sowat 100km op ’n tenk. Al probleem is, lag Faro, dat hy maar sukkel in die sterk wind. Hy het die naweek glad moes afklim en stoot tussen die Paarl en Wellington. Al hoe meer pendelaars wat ly onder die skerp styging in brandstofkostes, kyk nou na alternatiewe vervoermiddels in ’n poging om geld te bespaar. Vir diegene wat wiele benodig, is motorfietse en bromponies ’n goeie opsie. AA-woordvoerder Gary Roland sê dat dit slegs R156 tot R175 kos om ’n middelslag motorfiets of bromponie se tenk met 16 tot 18 liter petrol vol te maak, terwyl ’n 50 liter motortenk sowat R500 kos om vol te maak. “Meer en meer pendelaars kyk nou na motorfietse en bromponies omdat dit baie meer ekonomies as motors is en omdat dit makliker is om met dié voertuie in besige verkeer te ry. “Die enigste nadeel is dat ’n voertuig op ’n vol tenk ongeveer 600 km kan aflê voordat dit weer gevul moet word, waar ’n middelslag motorfiets slegs 250 km kan aflê op ’n vol tenk.” Alhoewel lang afstande nie deur bromponies of middelslag-motorfietse afgelê kan word nie, bly dit steeds die beste alternatief vir dorpsverkeer. Na beraming hoort ’n 11-kilometer rit op ’n bromponie van Noorder-Paarl na Suider-Paarl jou slegs R3,60 uit die sak te jaag. Motorfietseienaars, soos Monty Barnard (18), wat ’n Bajaj 180cc ry, sê dat hy ’n motorfiets wou hê, omdat hy gereeld skool toe daarmee moet ry. Boonop het hy ’n ekstra inkomste met pizzasaflewering. “Ek bespaar brandstof en dit is ook maklik om deur verkeer te ry op pad skool toe. Vir my is die enigste nadeel dat ek baie erg kan seerkry op ’n motorfiets indien ek in ’n ongeluk sou betrokke raak.” Volgens Kevin Ferreira van Vuka SA het hul verkope van Vuka-bromponies sedert die petrolprysverhogings die afgelope drie maande die hoogte ingeskiet. “Twee jaar gelede het ons slegs 20 eenhede per maand landswyd verkoop en nou verkoop ons tot ’n 2000 ’n maand. Dis ’n groei van meer as 100% sedert Januarie.” Volgens Leon Nel van Droomers Yamaha het hul verkope van motorfietse en bromponies ook skerp gestyg. “Gedurende die afgelope maand het ons alreeds 21 eenhede verkoop in vergelyking met verlede maand se verkope van 15 eenhede. Boland Bikes se Robbie Perold sê dat hul bromponieverkope die afgelope tyd die hoogte ingeskiet het omdat hierdie tweewiel-ponies goedkoper eenhede is as motorfietse en omdat hoë rentekoerse verkope, bekostigbaarheid en finansiering van motorfietse die afgelope tyd ondermyn.
More
News
|