PAARLSE kroeg-eienaar, Ralph Kenned, het byna in warm water beland nadat hy ’n gesteelde televisiestel in sy besit gehad het.
“Ek is onwetend ingetrek,” het Kenned gesê ná deursoeking van sy woning in Klein Parys, en die daaropvolgende ondervraging deur die polisie.
Ene Morgan, ’n werknemer van ’n kettingwinkel in die Paarlse middedorp, was ’n gereelde kliënt by Kenned se kroeg, Lady Grey Street Liquors.
“Toe Morgan my vra of ek sal teken as erkenning van ontvangs van ’n televisiestel wat hy by Game gekoop het en wat hy by my huis wil stoor, het ek dit gedoen.
“Hy het vir my ’n kwitansie gewys. Ek het eers agterna deur die polisie uitgevind dat die televisie gesteel was.”
Volgens polisiewoordvoerder, insp Hildegard Mackier, was die polisie op die spoor van ’n sindikaat wat met gesteelde goedere handel dryf, toe daar op Bonapartelaan 77, die Kenned-woning, toegeslaan is.
Die taakspan was op soek na die gesteelde televisiestel wat volgens inligting, na dié woning geneem is. Die televisiestel, asook die hoofverdagte, het egter verdwyn teen die tyd van die polisie-optrede.
Volgens Kenned het Morgan die televisiestel self weggeneem. Hy het geen idee waar die man hom nou bevind nie.
Die polisie het beslag gelê op ’n groot hoeveelheid elektriese en elektroniese toestelle uit Kenned’s Briefcase, die tweedehandse winkel wat hy uit sy woning bedryf.
“Ek kon bewys van aankope lewer en die items is terugbesorg,” het Kenned gesê.
“Wanneer die hoofverdagte in die ondersoek opgespoor word, kan die saak weer heropen word,” het insp Mackier gesê.
* Electronic equipment seized at the home of pub owner, Ralph Kenned, has been returned to him while the main suspect in a police investigation into stolen property, remains at large.