Reddingswerkers na Wallis
2008-06-19
TWEE reddingsbeamptes van die Paarl Metro-dienste sal binnekort hul tasse pak om deel te neem aan die Wêreld Reddingskompetisie wat aanstaande maand in Cardiff, Wallis, plaasvind. Top reddingwerkers van dwarsoor die wêreld word na dié kompetisie uitgenooi om hul vernuf as reddingspesialiste te bewys. Darrell Bowyer en Donnie van Schoor het reeds jare se ervaring as reddingsbeamptes, of eerder reddingstegnici, soos wat dié spesialiste nou bekend staan. Tydens hierdie kompetisie sal daar van hulle verwag word om hul vernuf te bewys in uiters moeilike voertuig reddingsituasies, asook bergredding. Hul mediese kennis sal ook onder die vergrootglas kom. Van Schoor is deur die lugmag opgelei en het hierna by die brandweer aangesluit, en nou is hy reeds tien jaar by die ambulansdiens in die Paarl. Bowyer is al ’n hele 24 jaar reddingswerker. Hy het so ’n groot passie vir sy werk dat hy unieke stabiliseringstutte ontwerp het om voertuie te stabiliseer, terwyl pasiënte daaruit gesny word. “Ek het gevoel dat die stutte wat aan ons gegee is, nie stabiel genoeg was vir uiters gevaarlike situasies nie, waartydens ons pasiënte uit voertuie moet sny. As die voertuig op sy dak of sy lê kan dit baie gevaarlik wees vir nie slegs die pasiënt nie, maar vir die reddingswerkers ook.” Met die hulp van Triomf Staal, John Clift en Conferheur Ingenieurs is dit nou bewys dat Bowyer se stutte puik produkte is vir voertuig-red- dingswerk. Ander reddingsdienste smeek vir Bowyer om vir hulle ook hiervan te produseer, maar weens sy besige skedule en lang werksure, is dit byna onmoontlik. Vir beide Van Schoor en Bowyer is dit ’n geleentheid van ’n leeftyd om hul land in Wallis te verteenwoordig. “Dit gaan nie net vir ons oor die kompetisie nie, maar ons sien uit daarna om te leer by ander lande se reddingswerkers om dalk nuwe tegnieke te leer, wat ons dan in ons werk kan gebruik.” Albei reddingswerkers moet hul eie onkostes dek om aan dié gesaghebbende kompetisie deel te neem. Enigiemand wat belang stel om bydraes te lewer, kan vir Bowyer skakel by 076-902- 9204. * Two of Paarl’s rescue workers will be competing in the World Rescue Cham
More
News
|