Babalyk gesoek
2005-07-07
’n NAELSTRING wat polisiebeamptes Vrydag in ’n toiletdrein ontdek het, is vermoedelik dié van ’n baba wat drie weke gelede in ’n toilet in Simondium afgespoel is.
Die polisie-ondersoek het begin nadat ’n 24-jarige vrou van die plaas Riverside verlede Donderdag ’n aanklagte van verkragting gemaak het.
Sy het beweer dat sy gedwing is om gemeenskap te hê met die 60-jarige man in wie sy huis sy loseer.
Met verklarings aan lede van die Paarlse Seksuele Misdryf-eenheid het die polisie begin vermoed dat daar ook verberging van geboorte was.
Die vrou was glo vyf maande swanger toe sy na bewering drie weke gelede geboorte geskenk het in ’n arbeidershuis op die plaas.
Dié saak is aan kapt Klaas Cloete van die Paarl speurdiens oorgegee.
Vrydag het polisiebeamptes met behulp van die brandweer in die vol toiletdrein rondgesoek.
Hulle het eers ophou grawe toe die naelstring ontdek is. ’n Staatspatoloog het Maandag bevestig dat die naelstring aan ’n mensfetus behoort.
Beamptes van die distriksraad sal nog hierdie week met spesiale masjinerie die drein leegpomp sodat die fetus opgespoor kan word.
More
News
|