Skelmstreke verydel
2005-07-07
’n JONG man wat sy motor as gesteel aangemeld het terwyl hy eintlik self agter die stuur was in ’n botsing in die Paarl, is aan regsverydeling skuldig bevind.
Thomas Brushby van Vishoek het skuld erken toe hy in die Paarl landdroshof verskyn het.
Landdros André Fourie het hom ’n boete van R1000 opgelê, met ses maande gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.
“Jy het wel berou getoon deur skuldig te pleit, maar regsverydeling is ’n ernstige misdryf, met die implikasie van valse assuransie-eise,” het die landdros in sy uitspraak gesê.
“Jy is ’n jong man wat nou ’n kriminele rekord het. Sou jy vir ’n werk aansoek doen, en ’n ander met dieselfde opleiding en met ’n skoon rekord doen ook aansoek vir dieselfde pos, sal jy nie die een wees wat aangestel word nie.”
Inbraak
In ’n ander saak van regsverydeling, word Pierre Marais van Noorder-Paarl aangekla omdat hy ’n inbraak by sy woning aangemeld het terwyl hy na bewering die diefstal van goedere ter waarde van R40 000 beplan het.
Hy is borgtog van R500 toegestaan.
Die drie Plaatjie-broers van Chicago wat verdink word van die inbraak -Mario, Michael en ’n 17-jarige - verskyn in dieselfde hof.
Saam met hulle op borgtog is die bestuurder van die motor waarmee die gesteelde goedere weggery is, Lesley Cloete van Table View.
Die inbraak is in die wiele gery toe die motor onklaar geraak het, en insp André Roziers onraad vermoed het toe die volgelaaide motor in Noorder-Paarl gestoot word.
* An attempt to defraud his insurance company has left a young man with a criminal record.
More
News
|