Newtons oorrompel teenstanders
2008-06-26
NEWTONS het die naweek ’n oortuigende oorwinning behaal oor die agterosse in hul liga, Paardekloof, toe hulle met 41-3 geseëvier het. Die telling weerspieël waarlik hoe Newtons hul teenstanders in alle fasette van die spel oorheers het. Newtons het in die proses daarin geslaag om sewe drieë, in modderige toestande, in te ryg en sodoende weer die ligavoorlopers te word. Ondanks die oorwinning voel Newtons se afrigters dat daar egter nog hard geskaaf moet word aan die span se algemene spel aangesien daar te veel bewegings skipbreuk gely het as gevolg van oorgretigheid en swak hantering. Newtons se uitblinkers was die losskakel Jacquin Ruthford, en die veteraanhaker Roderick Loverlott. Driedrukkers vir Newtons was Loverlott, Alshaun Bock, Fernando Sauls, Ruthford, Willie Abrahams en Jacquin Hendricks (2). Ruthford het drie doelskoppe bygevoeg. Newtons speel Saterdag in ’n wegwedstryd teen Verenigde Ceres. Die bus vertrek om 11:00 en reisgeld is R40.
More
News
|