Wellington verhang bordjies
2008-06-26
DIE eerste rugbyspan van Wellington het Saterdag in ’n wegwedstryd wraak geneem en vergoed vir hul nederlaag in die eerste ronde teen Abbotsdale. Wellington het die wedstryd met 31-13 gewen. Die wedstryd, wat op ’n baie nat veld gespeel is, is gekenmerk deur klipharde voorspelerspel, met veral die lostrio van Junior Bester, Julian Joubert en Morné Coetzee wat geskitter het. Die gewig en grootte van Wellington se nuwe slot, Jacques Naudé, het ook baie vir die Wellingtonners beteken - veral in die skrums en lynstane. Met Wellington se voorspelers in beheer van die wedstryd was die agterlyn toegelaat om goeie bewegings uit te voer, met die senterpaar van Willie le Roux en David Peutner wat goed gekombineer het. Abbotsdale was deurgaans op die agtervoet en kon nie die min kanse wat hulle gehad het optimaal benut nie. Driedrukker vir Wellington was Philip Potgieter, Le Roux, Coetzee en die plaasvervangersenter, Hentaz Kotzé - wat terloops skitterend verdedig het in die laaste 20 minute. Nicus Bergh was in die kol met 1 doelskop en 3 strafskoppe. Wellington se tweede span het met 25-7 gewen en die derde span het met 0-15 vasgeval. Saterdag speel Wellington tuis teen Wesbank van Malmesbury. Wedstryde begin om 13:30 en alle ondersteuners en oud-spelers word uitgenooi.
More
News
|