Kleinboet kan duur wees (Redaksioneel)
2008-06-26
DAAR word alte maklik toegelaat dat tieners wat nog nie bestuurderslisensies het nie, motors op openbare paaie bestuur. Soms neem tieners ook voertuie sonder verlof. In die meeste gevalle geniet kleinboet of kleinsus die uitstappie sonder voorval en keer ongedeerd huis toe. Maar soms, soos vandeesweek in die Paarl, is daar ernstige gevolge van die onwettige uitstappie. Die tiener wat die motorhuis van ’n buurman in Groenvlei so te sê vernietig het toe hy met ’n “geleende” bakkie daarin vasgery het, het ongedeerd van sy onderonsie met die motorhuis afgekom. Maar sy ouers gaan nog lank betaal aan die skade - dit gaan hulle ’n hele R450 000 kos. Dis nou afgesien van die kostes van die twee voertuie wat in die proses feitlik afgeskryf is. Want watter versekering kleinboet se ouers ook al het teen publieke aanspreeklikheid, gaan nie uitbetaal nie. Net soos versekeraars ook vasskop teen die uitbetaling van skade wat opgedoen word wanneer iemand dronk bestuur. Kleinboet agter die stuur sonder lisensie kan duur wees.
More
News
|