Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hierdie hond hoort nie op straat

Hierdie hond hoort nie op straat
 
2008-06-26


OP Woensdag 11 Junie het ek by ’n vriendin in die Paarl gekuier. Dit reën en is koud. Om en by 14:30 die middag klaar die weer op en ek besluit om huiswaarts te keer.

Ek woon in Kleinmond. Ek ry af in Enslinstraat en moet regs draai in die hoofstraat. Die verkeer is druk en die kans om regs in die hoofstraat in te kom, verg geduld. Skielik sien ek ’n baie mooi prentjie oorkant die hoofstraat. ’n Vrou, geklee in jeans, rooi waterstewels en ’n baadjie, stap op die sypaadjie met haar twee honde op leibande - een aan elke kant.

Dit is duidelik twee Beagles - met spierwit stert-punte in die lug en neuse op die grond, al snuffelende.

Die mooi prentjie verander skielik in ’n nagmerrie. Skuins oorkant Enslinstraat, in die hoofstaat, kom ’n vieslike groot Boerboel by ’n hek uit en val die vrou en haar twee honde aan. Ek sien alles gebeur, terwyl ek by die stopstraat wag.

Die boerboel ruk en pluk die beagles, dis vreesaanjaend - die vrou sien ek, gil en skree en keer vir lewe en dood om haar honde te beskerm.

Die vrou buk af en probeer haar honde ‘toe-hou’, die boerboel trap die vrou tot op die grond en sy val bo-op haar eie honde. Een van die Beagles, ruk los en vlug, straat af.

Die Boerboel byt na die vrou se arm en ek kon op ’n afstand sien hy het haar aan haar baadjie se mou beet en sy probeer losruk. Alles het so vinnig gebeur.

Ek sien die motors beweeg stadiger en op daardie stadium kon ek in die hoofstraat indraai. Ek stop by die ‘aanvals-toneel’ en sien die boerboel is weer in die erf met die hekkie nog steeds oop.

Ek sien die vrou met haar ander (orige) beagle, pootjie effens mank, draf-stap verder straat­­- af. Hoe sy van die boerboel-mon­ster ontslae geraak het, weet ek nie.

Dankie tog, ander mense stop by haar en tel haar en haar hond op. By die robot het hulle links gedraai in die boulevard en ek moes aanry Kleinmond toe.

Op pad huis toe, speel die hele tafereel soos daglig voor my af.

Het ander mense dit ook gesien? Wie was die vrou en wat het van haar ander beagle geword wat weggehardloop (gevlug) het? Het sy hom/haar gekry?

Is die honde beseer?

Wie is die eienaar van die vieslike boerboel??

Is jy bewus van die voorval? Hoe kan jy so ’n ondier aanhou? (jy kan dit beslis nie ’n troeteldier noem nie!)

Hoe lank nog of jou boerboel val jou eie huismense aan.

Besef jy dat jou hond ’n gevaar is vir mens en dier en dat jou hond die vrou met haar twee beagles kon doodgebyt het.

Wie is volgende op jou boerboel se lys, of sal ek dit noem, sy spyskaart?

C Rossouw

Die eienaar van die hond, Sumari du Toit, reageer: Die insident was ’n on­geluk nadat ons elektroniese hek fou­tiewelik oopgegaan het, weens blare wat die hek se meganisme verstop het. Ons was ongelukkig nie by die huis tydens die insident nie, maar het die hek onmiddellik herstel nadat ons van die insident verneem het. Ons het vir die vrou wie se honde aangeval is, om verskoning gevra, en ons verskoning is goedgunstelik aanvaar.

Boerboele word foutiewelik geklassifiseer as aggressiewe honde, maar word geteel om hul eienaars te beskerm. Ons boerboel sal agter geslote hekke bly.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za