Jong rugbymanne speel vanjaar tuis
2008-06-26
Jaco van Wyk
VOLGENDE week is dit weer tyd vir die gewilde o.13 Coca-Cola Cravenweek wat vanaf Maandag tot Vrydag toeskouers sal lok na die rugbyvelde van Hoërskool Gimnasium. Die kompetisie is jaarliks een van die gewildste gebeurtenisse op die rugbykalender en ’n geleentheid waartydens jong, opkomende en toekomstige rugbysterre hul staal kan toon teen die beste o.13 spelers van ander provinsies in die land. Dit was immers tydens die o.13 Cravenweek waar jong woelwaters soos Schalk Burger junior, Jean de Villiers, Victor Matfield, Bolla Conradie en Enrico Januarie hul eerste smakie van groot rugby geniet het. Met die eerste toernooi van sy soort wat in 1972 in Potchefstroom plaasgevind het, was 1987 die laaste keer wat die o.13 Cravenweek in die Paarl aangebied was. Met die voormalige Springbokkaptein, Corné Krige, wat daardie jaar die jong WP spelers op die veld gelei het, was die toernooi toe ook op Gim se velde gehou. Volgens Cassie Carstens, hoof van Laerskool Gimnasium, is die Hoërskool se velde perfek om ’n toernooi van so ’n aard aan te bied. “Vanweë die skool se infrastruktuur, koshuisgeriewe en goeie fasiliteite, is Hoërskool Gim soos ’n kampus vir die jong rugbyspelers wat uit agttien provinsies kom.” Volgens Carstens is die o.13 Cravenweek die perfekte platvorm vir jong spelers om hul opgang na hoër vlakke in rugby te bevorder. “Baie van die outjies haal eendag die o.18 Cravenweekspanne en hierdie toernooi help om jong talent te identifiseer.” Carstens meen die toernooi dien ook as ’n ekonomiese inspuiting vir die dorp, sy wynplase en gastehuise. “Met top rugbyspelers van regoor die land kry besoekers die geleentheid om ons pragtige dorp te geniet. “Wat die toernooi ekstra spesiaal maak, is die feit dat die SA rugbyunie spesiaal die toernooi toegeken het aan Paarl Gimnasium ter viering van die skool se 150ste vjeraarsdag,” sê Carstens.
More
News
|