Droom oopgeduik
2008-06-26
Jaco van Wyk
NA 58 toetse is Mariëtte Rix se droom uiteindelik verwesenlik om as Suid-Afrika se doelwagter haar land te verteenwoordig by die Olimpiese Spele in Augustus in Beijing. Alhoewel Rix in 2004 reeds haar naam by die lys oud-Gimmies kon voeg wat beloon is met SA kleure, was sy toe gekies as nie-reisende reserwe van die nasionale vrouehokkiespan wat daardie jaar aan die Olimpiese Spele in Athene deelgeneem het. Vir die 27-jarige Paarliet is haar insluiting in die span ’n besonderse voorreg. “Dit is waarlik ’n droom wat waar geword het, veral as ’n mens dink hoe die span reeds vier jaar saamwerk en voorberei vir die spele.” Rix voel dat haar insluiting en betrokkenheid by die Olimpiese Spele haar die hardste gaan tref die dag wat sy saam met die res van die SA span by die openingseremonie die Suid-Afrikaanse vlag omhoog gaan hou. “Ek weet dat daar ’n reuse verantwoordelikheid op my skouers rus - dus sal ek my land se kleure met trots dra,” sê Rix. Suid-Afrika se vrouehokkiespan is tans 12de gekeur in die wêreld, en alhoewel hulle niks minder as hul beste poging sal lewer nie, erken Rix dat hulle ook realisties is. “Ons eerste mikpunt is om die top tien te haal. Ons is egter ’n hoogs kompeterende span en staan vir niemand terug nie.” Die SA span weet hou hulle tans oefenkampe en oefen tot vier keer per dag. As ’n klubspeler by Maties is Rix vanaf 2007 die nommer een doelwagter in Suid-Afrika se vrouespan. In haar nege jaar by Maties was Rix vier jaar die kaptein van die klub. Saam met haar klub het sy reeds agt ligatitels, vier nasionale klubtitels en drie SA studentetitels ingepalm.
More
News
|