Pasop hoe jy sit
2008-06-26
Sieb Sieberhagen
JY dink nogal twee keer oor hoe jy voor Yolandi Brink, ’n fisioterapeut van die Paarl, sit. Jy is amper bang sy sal sê jou postuur is nie reg nie. Dan erken jy maar self dat jou postuur nie eintlik na wense is nie. Seker maar om die ys te breek en te verhoed dat sy jou sal berispe. Yolandi, onlangs bekroon as die beste nagraadse student in die Departement Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch se studie oor kinderpostuur baan die weg vir verdere studies. Een van die vereistes vir dié toekenning is dat sy haar studie met lof moes slaag. Haar navorsing het haar na verskeie skole in die Wes-Kaap geneem. “Ek het meer as 100 hoërskoolleerlinge in die Kaapse Metropool gebruik om my navorsing te doen. Die doel was om die ergonamika, dit wil sê die opset waar kinders voor rekenaars sit, te bestudeer, “Die doel van die navorsing was om ‘swak’ postuur uit te lig wat nek en rugpyn veroorsaak. “In die studie het ons nie na laerugprobleme gekyk nie. Alhoewel volwassenes meestal met rug- en nekpyne sukkel omdat hulle heeldag voor rekenaars sit, kry ’n mens dit ook nou onder kinders. Dit veroorsaak ’n bose kringloop aangesien dit produktiwiteit beïnvloed,” sê sy. Volgens Yolandi is dit belangrik dat mense wat voor ’n rekenaar sit, moet sorg dat die skerm 100% reg voor jou is, dat jy met ’n 30 grade hoek na die skerm moet afkyk en dat jou rug teen die leuning moet wees. Jy moet ook sorg dat die palms van jou hande op die toetsbord rus terwyl jou elmboë met ’n 90 grade hoek van reg langs langs jou lyf na voor strek. Yolandi het reeds met haar meestersgraad begin waar sy sal voortgaan met haar studie oor postuur. Haar huidige navorsing sal ook in ’n hoog-aangeskrewe mediese tydskrif verskyn.
More
News
|