Sakemanne beseer
2005-07-07
TWEE Paarlse sakemanne is in die hospitaal ná motorfietsongelukke dié naweek.
Stanley Manuel, uitvoerende bestuurder van Satchwell Controls, was Sondag om 20:00 op die Malmesburypad onderweg toe hy ’n bees getref het.
Manuel (50) is steeds in die hoësorgeenheid by die Durbanville MediClinic met ernstige beenbreuke en longbeserings.
Johan Jordaan, ’n motorverkoopbestuurder van die Paarl, het ’n paar meter voor hom gery toe hy die wit oë en die swart lyf reg voor hom gesien het.
“Dit was ’n skokkende ervaring,” het Johan gesê.
“Ek het geswenk en die bees met millimeters gemis. Stanley is in hom vas. En toe ry ’n vragmotor die beseerde bees dood.
“Ek het omgedraai en nie geweet hoe ek my vriend langs die pad sal kry nie. Alles was donker, met die pad vol stukke vleis.”
Manuel, van Montreaxstraat, Courtrai, was in Januarie saam met sy vrou Iris by Mosselbaai ook in ’n motorfietsongeluk.
Hy het van daardie botsing steeds penne in dieselfde bo-been wat nou weer gebreek is. Nou het hy ook frakture van die teenoorgestelde knie en altwee voorarms.
Manuel is president van die Interceptors motorfietsklub. Die splinternuwe ZX10, ’n 1000cc Kawazaki padmotorfiets wat hy nog ingery het nadat hy dit net Vrydag bekom het, is ’n wrak.
Die bees, ’n R50 000 stoetbul, het na bewering uitgebreek skaars drie dae nadat hy aangekoop is en die aand van die botsing by die plaas Mosselbank oor die pad geloop het.
* Johan Pauw, Paarlse ontwikkelaar, is in die hospitaal nadat hy met sy Aprilia Capo-Nord, ’n 1000cc dubbeldoel motorfiets, op ’n plesierrit by Kleinmond met ’n rots gebots het.
Pauw is met die noodhelikopter na die Hermanus hospitaal gevlieg waar hy vir borsbeserings behandel word. Hy is gister oorgeplaas na Paarl MediClinic.
* Two prominent middle-aged Paarl businessmen have been injured in motorcycle accidents.
More
News
|