Pensionaris onkant gevang deur kamma-polisiemanne
2008-06-26
MANS wat hulle as polisie-beamptes voordoen, het die naweek op Wellington met ’n slinkse plan ’n bejaarde man oorreed om sy bankkaart én pinnommer aan hulle te gee. Die polisie waarsku die publiek, en veral ouer mense, teen die drie Xhosa-sprekende mans wat “beslis nie polisiebeamptes is nie”. Die 66-jarige pensionaris van Hoogstraat het Saterdag om 13:00 pas R200 by ’n outomatiese bankoutomaat in Kerkstraat getrek toe ’n man voor hom buk en ’n plastieksakkie, volgeprop met geld, optel. Hy het voorgestel dat hulle die geld deel, en toe die ouer man na die ablusieblok op Victoriapark stap, hom agtervolg. Daar het ’n tweede man skielik bygekom en homself as ’n polisiebeampte voorgestel. “Hy het selfs ’n beursie oopgeflap met wat soos ’n polisiewapen gelyk het daarin,” het die slagoffer later onthou. Hy het verduidelik dat die eerste man ’n vermeende rower is, en dat die pensionaris as getuie, sy bankkaart en besonderhede aan hom moet oorhandig. Tussendeur het die ‘inspekteur’ met ’n ‘kaptein’op sy selfoon gepraat. “My man was totaal verbouereerd,” het sy eggenote later gesê. “Ek wens so iets niemand toe nie.” Die man is aangesê om na die parkeerterrein agter Shoprite te stap, waar ’n polisiekaptein op hom sou wag. Daar was geen polisie daar nie en teen die tyd dat die regte polisie hom kon help om sy kaart te kanselleer, is daar reeds in die Paarl altesame R1 800 uit sy bankrekening getrek. “Sy geld is weg, maar sy lewe is darem gespaar,” sê sy vrou. Die polisie het mense gewaarsku om onopsigtelik na die “polisiekenteken” te probeer kyk vir identifikasie, en dan eenvoudig weg te loop en so gou moontlik die polisie te skakel by 021-864- 8440. * A Wellington pensioner was robbed after bogus policemen conned him into handing over his bank card and pin number.
More
News
|