Diewe dra kameras weg
2008-06-26
Malané Bosman
DIE leweransiers van skroothandelaars is nie altyd die eerlikste menere nie, en daarom het Christo Saayman by Mr Metal in Wellington, kameras en ligte laat installeer. Min het hy kon dink die veiligheidstoerusting by sy skrootwerf in Industriestraat sou óók in die hande van diewe beland. Die afgelope ses weke is vyf kameras en ligte van mure binne- in die skrootwerf afgesteel. Die skade word op meer as R30 000 beraam. Verlede week was daar weer ’n inbraak. “Daar is talle vrae oor hoe die dief oor die dak kon kom, uit die oog van die kamera kon bly en hoe hy die bewegingsensors kon ontduik,” sê Saayman. “Die alarm is geaktiveer en ek is dadelik deur die sekuriteitsmaatskappy na die perseel ontbied. Dit wil voorkom of die dief op die dak gesit het terwyl die sekuriteitswag onder rondgekyk het.” Een van die gesteelde kameras was hoog op ’n paal gemonteer. Die dief het op die dak geklouter en die paal afgebuig sodat hy op die grond die kamera kon bykom. Die kameras word gebruik vir skandering van die metaal wat aangebied word, en ook om later die leweransier te identifiseer, indien nodig. Skroot word slegs aangekoop indien Saayman en sy vennoot, Willem van der Westhuizen, tevrede is dat die metaal nie gesteel is nie. Alles wat aangekoop word, word in ’n register aangeteken en dan bly die skroot sewe dae lank lê vir ingeval daar navraag oor iets is. “Daar is tye wanneer ons twyfel. Dan gee ons ongesiens opdrag dat die polisie geskakel word en ons probeer die leweransier vertraag totdat die polisie hul opwagting maak. Selfs al verdwyn die man, en selfs al was die identiteitsdokument ongeldig, het ons darem altyd die beeld op die kamera. “Ons het inligting dat kameras deesdae ’n gesogte item is. Tikverslaafdes steel dit en ruil dit by dwelmbase vir Tik. Die smokkelaars installeer weer die kameras buite hul persele om hulle te waarsku teen die aankoms van polisie en ander, vir hulle, ongewenstes.” * Security lights and cameras used to identify criminals and stolen property, have been stolen from a scrap metal dealer in Wellington.
More
News
|