DIE Drakenstein Munisipaliteit het altesame R233 miljoen begroot vir kapitaalwerke in die nuwe finansiële jaar, wat vandeesweek afskop.
Benewens voortgesette onderhoud van strate en ander infrastruktuur is altesame R30 miljoen begroot vir die skep van grootmaat waterstelselkapasiteit, wat die eerste fase van die nuwe waterbehandelingswerke op Paarlberg insluit.
Dit sal ook algemene uitbreiding en ontwikkeling akkommodeer, verbetering van waterdruk en toevoer, en sal ook voorsiening van basiese dienste befonds.
Volgens Leon Coetzee, direkteur infrastruktuur, sal die rioolwerke se kapasiteit uitgebrei word om voorsiening te maak vir toenemende uitbreiding en eiendomsontwikkelings in Drakenstein (R26,2 miljoen).
Die projek dek verbeterings aan Paarl rioolwerke en vorm deel van die oorhoofse afvalwaterbehandelingstrategie wat reeds gedurende vorige finansiële jare ’n aanvang geneem het.
Vir kapasiteitvergroting, opgradering en vervanging van rioolnetwerkpype en stelsels is ’n verdere bedrag van R8,6 miljoen begroot.
Altesame R13 miljoen is begroot vir die uitbreiding van paaie en stormwaterdienste.
Dit sluit in stormwater R2,9 miljoen; opgradering van strate (R2,9 miljoen), sypaadjies (R550 000), verkeerskalmering (R550 000) en herseel van primêre roetes (R4,4 miljoen).
Vir die skep van addisionele kapasiteit by die stortingsterrein en die oorlaaistasie en uitbreiding van die vullisverwyderingsdiens is R4,2 miljoen voorsien.
’n Bedrag van R26 miljoen is begroot vir elektriese ingenieursdienste.
Dié bedrag maak voorsiening vir verbetering en uitbreiding van die netwerk, substasies en toerusting sowel as vervanging en bestuur van bestaande bates.