DIE jong kankerlyer wat twee weke gelede besoek ontvang het van 7de Laan aktrise Melanie du Bois, is die afgelope naweek oorlede.
Marquen van Rooyen (14) van Amstelhof was die afgelope twee jaar gewikkel in ’n pynlike stryd teen leukemie. Hy was vanjaar bitter min in die skool en het lang tye in Tygerberg Hospitaal deurgebring.
“Hy het Sondagmiddag in die hospitaal gesê hy wil huis toe gaan, die suurstofmasker afgetrek en sy laaste asem uitgeblaas,” het sy ma gesê.
Twee weke gelede is Marquen se droom om die bekende aktrise te ontmoet, verwerklik toe sy hom by sy ouerhuis kom haal het en vir ’n uitstappie na Paarl Mall geneem het.
Kort daarna het sy toestand verswak en is hy weer in die hospitaal opgeneem.
Die begrafnis is Saterdag om 10:00 by Piet-my-Vroustraat 9 en om 11:00 in die Lig van die Wêreld Kerk (Amstelhof-skoolsaal).
Marquen word oorleef deur sy ouers Hansie en Sarah, asook twee broers en twee susters.
Enige skenkings of blomme sal gehaal word deur André Lingson van Charity Crew (073-389-1522).