Bure sien rooi in Groenleegtestraat
2008-07-03
Lise Beyers
DIE stof het steeds nie gaan lê in Groenleegtestraat, Noorder-Paarl, oor ’n onwettige oprit nie. Verlede jaar was die gort híér behoorlik gaar, toe ’n egpaar van dié straat agter tralies beland het, nadat ’n buurman se skoonseun se voertuig met klippe beskadig is. Die skoonseun is ook in die proses gewurg en met ’n piksteel bygedam. Hierdie herrie het ontstaan nadat Elias de Kock op verskeie geleenthede agteruit oor die netjiese plaveisel by William Oosthuizen se oprit gery het. De Kock het aangevoer dat omdat Groenleegtestraat taamlik nou is, word bestuurders soms genoodsaak om oor bure se oprit te ry, as hulle uit hul eie erwe wil kom. Wat die draai nog moeiliker maak, is ’n lae muurtjie wat Oosthuizen gebou het tot teenaan die straat. Hy het so sy grense verleng, en munisipale grond as sy eie toegeëien. Die situasie is op die spits gedryf een Vrydagaand, toe De Kock weer uit sy skoonpa se erf, oorkant dié van Oosthuizen, gery het. Dit is toe dat De Kock se motor met twee groot klippe getref is. Hierna het ’n onderonsie ontstaan tussen die twee mans, en De Kock is gewurg en met ’n piksteel geslaan. Oosthuizen sowel as sy vrou Reneé, is hierna deur die polisie in hegtenis geneem. Die saak sou verlede Augustus in die hof voorkom, maar daar is ooreengekom om buite die hof te skik. Oosthuizen het ’n kontantbedrag betaal wat die kostes van die herstelwerk aan De Kock se voertuig sou dek. Daar is ook ooreengekom dat hy die muurtjie wat hy vanaf sy oprit tot teen die pad gebou het, sou afbreek. Kontant het wél hande verruil, maar Oosthuizen het nog geen poging aangewend om die muurtjie te verwyder nie. “Ons het die munisipaliteit genader om te verseker dat dit wél gedoen word, aangesien dit hulle grond is, maar hiervan het nog niks gekom nie.” * The dust has still not settled in Paarl North, around a driveway which is causing strife.
More
News
|