Streek stel teleur
2008-07-03
DIE Paarlstreek het Saterdag op Nuweland, voor ’n redelike skare, teleurgestel deur met 40-26 vas te val teen die span van Helderbergstreek. Die wedstryd is teen ’n hoë tempo gespeel en het aan al die verwagting voldoen. Die Paarlstreek-manne het egter gesukkel op die gladde Nuweland-oppervlak en hul oordeel en verdediging het tot die Paarlstreek se ondergang gelei. Paarlstreek het in die eerste helfte die bo-toon gevoer en was rustyd met 14-11 voor na ’n skitterdrie deur die linkervleuel Anwar Moerat en drie strafdoele deur Rico Davey. Helderbergstreek het egter ná rustyd die bal lug gegee en die een aanval na die ander geloods wat die verdedigingspatroon van Paarlstreek tot die uiterste beproef het. Oordeelsfoute deur Paarlstreek het gelei tot twee drieë vir Helderberg om die telling tot 25- 14 te bring. Paarlstreek het hierna sy ritme gevind en Morné Goetham, Gurswin Claasen en Brandon van Schoor het begin oorheers in die lynstane. Archie Maziza en Hein Pretorius het ook hul stempel by die skrums begin afdwing. Volgehoue druk het gelei tot Shane Simonse se drie met Andrew (Cullen) Jacobs wat dit verdoel het om sodoende die gaping te vernou na sewe punte. Paarlstreek het hierna vanuit alle hoeke probeer hardloop, maar onoordeelkundige aangeë en swak verdediging het gelei tot nog twee drieë vir Helderberg wat ’n oorwinning buite die bereik van Paarlstreek geplaas het. Paarlstreek het geweier om bes te gee en Archie Maziza het oor die doellyn gedryf vir ’n drie. Die lynregter het egter beslis dat die bal vorentoe verloor is en die skeidsregter het die drie teruggetrek. Paarlstreek het steeds knaend aangeval en Moerat het sy tweede drie gaan druk ná ’n goeie agterlynbeweging. Hoewel Paarlstreek verloor het, het hulle die divisie gewen en sal hulle teen Helderberg of Wynland in die finaal speel. Die Paarlstreek het hul o.13 streekwedstryd teen City and Suburban streek met 13-12 verloor terwyl die o.16 Paarlstreekspan heeltemal te sterk was vir die o.16 span van City and Suburban deur hulle met 46-7 af te stof. Die Paarlstreek o.20 span het ook hul divisie gewen en sodoende onoorwonne geëindig.
More
News
|