Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Motor toegegooi onder gruis

Motor toegegooi onder gruis
 
2008-07-03

Malané Bosman

SY het haar oë toegemaak toe die bruin brander van die vragmotor langs haar op die Wemmershoekpad, oor haar motor rol.

En toe hoor Elnette Viljoen dat dit nie sand was wat oor haar val nie, maar klippe – wat gate in haar motor se voorruit, enjinkap en ligte slaan.

Wat vir die student van die Paarl ’n rustige rit huis toe was verlede Woensdag, het om 08:30 skielik in ’n nagmerrie ontaard.

“Soos ek aangery gekom het na die ingang na die Drakenstein tronk, het ek die ligkleurige, swaar vragmotor sien aankom uit die rigting van die Paarl,” het Elnette onthou.

“Ek het die motors agter die vragmotor dopgehou, want ek het enige oomblik verwag dat hulle die stadiger vragmotor voor my sou verbysteek.

“Toe ek reg langs die vragmotor was, het ek skielik die bruin wal oor die rand van die bak sien val. Ek het gedink dis sand, maar toe hoor ek die klippe.”

Elnette het eers haar oë toegeknyp en toe haar voet van die pedaal gelig.

Haar rooi Opel Kadett het drie gate in die voorruit opgedoen, die enjinkap is erg beskadig, en die twee voorligte is uitgeslaan, met gruisklip wat nog binne-in die lighouers lê. Tot die nommerplaat van haar motor is afgeslaan.

“Ek het stilgehou en ’n oomblik net so bly sit. Toe bel ek my man. Ek was so geskok, maar ek is net dankbaar dat ek kalm gebly het. Kobie het gevra of ek ongedeerd was, en toe ry ek reguit na die polisiestasie in die Paarl.”

Die gruisklip het die volgende dag nog gestrooi oor die pad gelê.

Daar was nie tyd om die naam van die maatskappy wat gruis vervoer, te sien nie. Die nommerplaat was onleesbaar onder modder, het Elnette gesê.

Sy hoop, met dié berig, sal die motoriste wat saam met die vragmotor op die Wemmershoekpad was, na vore kom sodat die gevaarlike vervoerder vasgevat kan word.

Elnette kan gekontak word by 021-872-5055.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za