Rose weer op koers
2008-07-03
ROSES UNITED het Saterdag op Pelikaanpark die sterk span van Delicious met 22-10 geklop en met dié oorwinning gewys dat hulle nie sommer hul voorloper-status in die Premierliga maklik gaan prysgee nie. Soos in sy vorige wedstryde het die Rose weereens die meeste gebiedsvoordeel geniet met die tuisspan se sterk pak voorspelers wat hulself weer deeglik laat geld het. Dit was veral Franzel September, die Rose se kaptein, wat die manne van Delicious laat bontstaan het met sy goeie spel. Agterlangs het die Rose ook goed gedoen om die gevaarlike agterlyn van hul teenstanders in toom te hou. Enrico Nortjé en Justin Morgan het hulle in hierdie opsig goed van hul taak gekwyt. Michael Abrahams het ook ’n bestendige wedstryd op losskakel gehad. Vir die Rose het Franzel September, Justin Morgan en Brandon April drieë gedruk. John-Lee Nortjé was suksesvol met twee doelskoppe en een strafdoel. Die Rose pak eerskomende naweek die gedugte span van Ceres op laasgenoemde se tuisveld. Alhoewel Ceres verlede naweek onverwags teen Black Leaves verloor het, durf die Rose hul geensins onderskat nie. Ceres is altyd ’n moeilike teenstander op sy tuisveld. Die feit dat daar ook reën voorspel word vir Saterdag sal verder meebring dat die wedstryd grotendeels voorlangs beslis gaan word tussen die twee beste pakke voorspelers in die kompetisie. Die Rose se ystermanne voorlangs, Ignatius Korabie en Shane Jacobs, sal in die verwagte nat weerstoestande weer sleutelspelers wees vir die Rose. Busse vertrek om 10:00 vanaf Klaasenstraat, Hillcrest.
More
News
|