Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gesin op plaas aangeval

Gesin op plaas aangeval
 
2008-07-03

Malané Bosman

IN die lig van die kaggelvuur het ’n boervrou van Daljosafat verlede week gesien hoe ’n vreemde man by haar agterdeur die hamer oplig en herhaaldelik op haar man se kop neerkap.

Annelie Arnold van die plaas Dalweiding, was Dinsdagaand net na sewe saam met haar man, Wilhelm, die bekende druiwepitolie-ver vaardiger, en haar bejaarde ma, Suzie Albertyn, in hul televisiekamer.

Hulle het ’n geritsel by die agterdeur gehoor en Wilhelm is met die flits na die deur, terwyl Annelie in die leefvertrek gewag het om die lig af te skakel sodra hy die deur oopmaak.

Toe die deur oopgaan in die donker, het die man die hamer gelig en dit met krag op Wilhelm se kop geslaan.

“Toe ek sien Wilhelm lê op die vloer en die man slaan en slaan en slaan, het ek ’n stoel probeer optel om na die man te gooi. Maar my arms was soos lood.

“Die man het regop gekom, na my gekyk met sulke ronde, starende oë, en gesê `Ek gaan julle seermaak’.”

Met dié is Annelie teen die kop gemoker, en ook sy het op die vloer neergeslaan.

Suzie (75) het gillend opgestaan en ’n tafelpoot gegryp wat in die stoeiery gebreek het.

“Ek weet nie hoe sy die krag gehad het nie, maar my ma slaan toe die man van agter.”

Die aanvaller het omgeswaai en met die hamer haar voorarm gebreek.

Dis toe dat die gesin se boerboel grommend op die man afpyl, die vier Jack Russell hondjies blaffend agterna.

Die aanvaller het die aftog geblaas.

“Dit het baie lank gevoel, maar die hele aanval het seker skaars drie minute geduur.

“Wilhelm het vreeslik gebloei. Ek was so bang dat my ma ’n beroerte kry. Ek is steeds bekommerd oor haar.”

Wilhelm het ernstige kopbeserings en harsingskudding opgedoen. Annelie se linkeroog is blou toegeswel. Haar lip is stukkend geslaan en daar is steke in haar agterkop.

Die werklose Juliano Ross (18) van Mosesstraat 32, Greenfields, is die volgende dag deur Paarl speurders insp JT Pietersen en kapt Klaas Cloete in hegtenis geneem.

Ross het al telkemale met die gereg gebots en was dieselfde dag as die aanval op die Arnolds, by ’n aanranding op die bestuurder van die buurplaas, Nederburg, betrokke.

Annelie wil mense waarsku.

“Hier is ’n alarmstelsel en paniekknoppies, maar mens is laks. ’n Mens moet let op waarskuwingstekens, soos verandering in die gedrag van jou honde, en dadelik die sekuriteitsmaatskappy of die polisie te skakel.

“En mens moet paniekknoppies soos juweliersware dra en bowenal behoort mens te oefen hoe jy maak in ’n noodgeval.

“Ons is nou in skok, maar ons sal daardeur kom. Ons familie en vriende, die bure en die polisie is wonderlik vir ons. Dit was nog nie ons tyd nie. Dit was nie die Here se wil nie,” het Annelie gesê, ’n hondjie styf in haar arms. .




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za