Haaie kou Kavaliers
2008-07-03
Jaco van Wyk
DIE Kavaliers het Vrydagaand, tydens ’n Curriebekerwedstryd teen die Haaie, sy moses met 13-38 teëgekom nadat hulle aanvanklik goeie teenstand gebied het teen hul sterk opponente in Durban. Die Kavaliers se twee geelkaarte in die middel van die tweede helfte was straks die oorsaak vir hul nederlaag ná hulle die tuisspan, veral tydens die eerste helfte, onder geweldige druk geplaas het. Die Kavaliers het rustyd binnegegaan met ’n agterstand van 10-11. Die Kavaliers het die wedstryd met selfvertroue begin en gespeel soos ’n span wat groot planne het vir die seisoen ná hulle verlede naweek met 48-42 geseëvier het teen die Valke. Gedurende die eerste helfte van die wedstryd teen die manne van KwaZulu-Natal was die Kavaliers die span wat die beter rugby opgedis het. Die Wellingtonners het eerste bloed geruik toe die senter Lionel Cornelius ’n puik drie afgerond het na ’n uitstekende agterlynbeweging wat seepglad verloop het. Alhoewel die Haaie vinnig teruggeantwoord het met ’n drie deur die flank Jacques Botes, het die Bolanders steeds die meeste van die speelwerk gedoen deur heeltyd vrae aan hul opponente se verdediging te stel. Die Kavaliers het die tweede helfte binnegegaan met ’n agterstand van slegs een punt en steeds sterk gelyk - totdat die besoekers se kaptein, Piet van Zyl, van die veld gestuur is ná hy oortree het by ’n losgemaal. Slegs ses minute later is Boland gestraf met nog ’n geelkaart. Self sonder al vyftien spelers op die veld het die Kavaliers nooit handdoek ingegooi nie en tot teen die einde van die wedstryd het hulle sterk aanvalle geloods. Die Haaie het die wedstryd eers laat beklink met twee drieë in die laaste paar minute. Die Haaie se bonuspuntdrie in die 80ste minuut was egter duidelik gedruk na ’n vorentoe aangee wat die telling onregverdig eensydig laat lyk het. Alhoewel die Kavaliers die wedstryd verloor het, is die manne van Wellington beslis nie verneder nie en beskik hulle oor die vermoë om ’n paar spanne tydens vanjaar se Curriebekerkompetisie te verras. Vrydag om 15:30 speel die Kavaliers teen Griekwas op Bolandstadion.
More
News
|