NAVORSING oor hoe gekontamineerde waterige reaksiewater meer omgewingsvriendelik gesuiwer kan word, het aan oud- Wellingtonner Randal Albertus ’n toekenning van die Water Instituut van Suider-Afrika (WISA) besorg.
Reaksiewater is ’n eindproduk van die proses waardeur petroleum uit steenkool vervaardig word.
Randal het die GG Cillié studenteprys vir sy aanbieding ver ower tydens die onlangse tweejaarlikse WISA-kongres, wat by Sun City gehou is. Hiervoor het hy ’n wisseltrofee asook ’n kontantprys ontvang.
Randal, wat aan Bergrivier Sekondêr gematrikuleer het, is tans hoof-omgewingswetenskaplike by Sasol Technologies se navorsings- en ontwikkelingsafdeling in Sasolburg.
Sy navorsingswerk, wat reeds enkele jare duur, is gedoen ter voorbereiding van sy doktorale studies aan die Universiteit Stellenbosch, waarmee hy tans in die Departement Plant- en Dierkunde besig is onder leiding van ekotoksikoloog prof Koot Reinecke.
Randal is vereer vir sy navorsingswerk en verwante publikasies oor die biologiese anaërobiese behandeling van lae temperatuur Fischer-Tropsch reaksiewater danksy Paques BIOPAQ® interne-sirkulasie anaërobiese tegnologie.
Sasol gebruik die Fischer-Tropsch proses om steenkool tot sintetiese ru-olie te verwerk, en dan weer verder tot vloeibare brandstof en chemiese gebruiksprodukte soos plastiek om te sit.
Reaksiewater, een van die eindproduk- te van hierdie proses, bevat skadelike stow- we wat nadelig vir die omgewing is.
Randal het miniatuur anaërobiese korreltjies, wat bestaan uit gekonsentreerde mikro-organismes wat suurstofloos kan lewe, gebruik om die reaksiewater tot koolsuurgas en metaangas af te breek.
“Die metaangas kan as alternatiewe brandstof gebruik word,” vertel Randal.
“Met metaangas as byproduk kan die tegnologie meer volhoubaar wees as wat die geval is in die gebruiklike aërobiese waterbehandelingsmetode,” glo Randal.
Hy sê dit is belangrik dat die reaksiewater op ’n omgewingsvriendelike manier afgebreek word en dat die behandelde water weer gebruik kan word, sodat die gebruik van natuurlike hulpbronne soos water verminder kan word.
Indien verdere toetse daarop dui dat die tegnologie geskik is vir die behandeling van reaksiewater, kan hierdie tegnologie moontlik gebruik word vir Sasol aanlegte in China, Indië en in Noord-Amerika.
Die eksperimentele fase van hierdie studie het veral gefokus op moontlike aanlegte in China.
Randal het sy BSc-graad, asook ’n honneurs- en meestersgraad aan die US behaal. Sy doktorale studies handel oor hoe die vergiftiging van die omgewing deur diesel en biodiesel-mengsels beperk kan word.