Kinders se tragiese dood skok
2008-07-10
Lise Beyers
DIE Paarl is verlede week in rou gedompel met die nuus van die tragiese dood van drie kinders van Simondium. Die tragedie het verlede Donderdagaand afgespeel terwyl die Steenkamp-gesin met vakansie was in die Vrystaatse Hooglande. Hulle sou oornag by die skilderagtig bergoord Golden Gate, aan die hange van die Maluti-berge. Danie Steenkamp het die afrit misgery en toe hy wou terugdraai, is die voertuig waarin hy en sy vrou, Mandie, en kinders, Marike (19), Sanika (15) en Daniël (12), gery het, deur ’n vragmotor getref. Die gru-ongeluk het plaasgevind voor die oë van vriende van hulle wat saam met vakansie was. Al drie kinders is op slag dood en Danie en Mandie is met ligte beserings na ’n hospitaal in Bethlehem geneem vir behandeling. Marike het in 2006 by Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer en was tans ’n BA student in haar tweede jaar by die Universiteit Stellenbosch. Sanika het in haar suster se voetspore gevolg en was ’n graad nege leerder aan Hoër Meisieskool. Daniël was in graad 7 by Privaatskool Simond. Reinette Colyn, skoolhoof van Hoër Meisieskool Paarl, het gesê dat die personeel, leerders en ouers uiters geskok en verslae was nadat hulle hierdie skoknuus ontvang het. “Marike en Sanika het op hul stil manier ’n integrale deel gevorm van die Girls’ High familie. Hulle was albei voorbeeldige, toegewyde kinders wat diep in ons harte gekruip het. “Hulle was ware rolmodelle en word deur ieder en elk wat in aanraking met hulle gekom het, gemis. “Ons innige medelye gaan uit na Danie en Mandie in hierdie moeilike tyd.” ’n Vriend van die Steenkamps, voor wie se oë die drie kinders grootgeword het, het gesê dat woorde nie kan beskryf hoe die Steenkamps en hul vriendekring getref is nie. “Danie en Mandie is tans baie sterk en onder omstandighede hanteer hulle die ongeluk so goed moontlik. “Hulle was ’n wonderlike, hegte gesin en hulle het vir almal wat hulle geken het, geraak. “’n Baie moeilike pad lê nou voor.” ’n Hoogs emosionele gedenkdiens het gister plaasgevind by die NGK Simondium, waarna die teraardebestelling in Gansbaai was. *’n Oud-Paarliet en Boishaaier, Anton Rossouw (46), het verlede week ook tragies gesterf in ’n motor-ongeluk. Rossouw was Vrydag-middag vanaf Hermanus na sy huis in Stanford onderweg, toe hy beheer oor sy motor verloor het. Hy is uit die voertuig geslinger. Hy word oorleef deur sy vrou Marianne, asook twee jong seuns Nicholas (12) en Jaques (6). * Paarlites are in mourning after the tragic death of three siblings in a car crash.
More
News
|