Reënweer eis tol
2008-07-10
Lise Beyers
DIE swaar reëns van die afgelope week, wat plaaslike paaie letterlik omskep het in ’n see van water, het gisteroggend sy eerste slagoffer geëis. Die ongeluk het op die kruising van die ou-Paarlpad en Simondium plaasgevind, toe ’n bakkie in ’n vragmotor vasgery het. Agter die stuur van die bakkie was Gerdus van Rhyn wat vermoedelik weens die swak lig en swaar reëns nie die aankomende vragmotor gesien nie. Tydens die botsing het Van Rhyn se bakkie aan die sy van die vragmotor vasgesit, en die vragmotorbestuurder het onbewus hiervan, eers byna ’n halwe kilometer verder tot stilstand gekom. Van Rhyn is op slag dood en die reddingsdienste moes die dak van die voertuig oopbreek om sy liggaam uit die wrak te verwyder. Van Rhyn, van Noorder-Paarl, was ’n bestuurder van ’n vervoermaatskappy in Ben Bernhardi. Hy word oorleef deur sy vrou Antjie en kinders Bennie en Gerdus. Sedert verlede Vrydag is meer as 150mm reën aangeteken, en alhoewel dit vir talle mense ongerief veroorsaak het, het onder landboukundiges tevredenheid geheers, na die afgelope jaar se vrees dat aardverhitting droogte kan veroorsaak. Die nooddienste was te alle tye op gereedheidsgrondslag geplaas indien ’n vloedsituasie sou ontstaan. Ten spyte hiervan, het min noodtoestande opgeduik. Maar Maandag tydens swaar reën het die dreineringstelsels geknak, en water het begin opgaar in verskeie laerliggende gebiede. Oudergewoonte het ’n meer gevorm in Jan van Riebeeckweg op die hoek van Fairviewstraat, Denneburg. Hier het die water kniediep oor die pad gespoel, en personeel van Mastertreads moes behoorlik die situasie monitor om te verhoed dat die water nie binne die onderneming inspoel nie, soos wat al vantevore gebeur het. Die Paarl ambulansdienste in Sanddriftstraat was ook byna onder water, toe oorstroomde dreinering nie meer die toeloop van water kon hanteer nie. Nog probleemareas was in die Hoofstraat, Noorder-Paarl, en die Bergrivier Boulevard waar toeganklikheid bemoeilik is weens groot waterplasse. Maandagaand het ’n gesin van Voorstraat, Wellington, angstige oomblikke beleef, toe water van ’n nabygeleë dam deur hul huis gestroom het. Die dam is deel van die Bordeaux-ontwikkeling langs Retiefstraat wat reeds drie jaar sloer. ’n Betonmuur van die huis is platgedruk en modder het tot binne in die huis gestroom. “Ons moes heel nag spook om ons huis droog te kry en ons besittings te red.” Die Hugenote-tonnel was Maandag vir ure gesluit weens rotsstortings aan die Worcester- kant van die tonnel. Natuurlik juig boere oor die goeie reëns, asook die ysige temperature, wat volgens hulle weereens die weg sal baan na ’n uitstekende vrugte- en koringoes. Carl Opperman van Agri-Wes- Kaap het gesê dat die reën en koue weer baie goeie nuus vir boere is. “Dit is uitstekend en boere van die Boland en Swartland hoop dat dit sal voortduur.” En alhoewel mens en dier bibber , is dit volgens weerkundiges heel natuurlike weersomstandighede vir dié gebied. Plaaslike damme het ook goed gebaat by die reëns, met die Wemmershoekdam byna 80% vol en die Bergrivierdam 83%. * The heavy rainfalls experienced over the past few days have caused problems, but farmers rejoice.
More
News
|