Jong rugbyspelers sprei vlerke
2008-07-10
Jaco van Wyk
NIE eens die sopnatweer kon die jong rugbymanne daarvan weerhou om uithalerrugby op die laaste twee dae van die Coca-Cola o.13 Cravenweek te speel nie. Nadat die toernooi op die eerste twee dae in heerlike sonskynweer plaasgevind het, moes van die spanne hul taktiese benaderings tot wedstryde ietwat verander het om aan te pas by die weerstoestande. WP, wat op dag een en dag twee van die toernooi gewys het dat hulle nie bang is om die bal na die vleuels toe te speel nie, moes sy sterkpunt later inboet toe die toestande hulle gedwing het om die bal by die voorspelers te hou. WP het hul eerste twee wedstryde maklik gewen teen die Luiperds (30-5) en Kwazulu-Natal (24-3) toe die droë veldoppervlak aan hul vlugtige agterspelers vlerke gegee het. Die WP vleuel Tiano Fortuin, ’n leerder van Paarl Primêre Seunskool, was die groot uitblinker met vyf drieë in twee wedstryde - ’n speler om beslis dop te hou in die toekoms. Donderdag en Vrydag het die swaar reënval WP se spoed beperk en dit was vir die spanne van Grens en die Valke makliker om die Streeptruie se beweegruimte te beperk. WP het Donderdag met 0-3 vasgeval teen Grens - een van die groot skokke tydens die toernooi. Vrydag het die WP-span weer gesukkel teen die onoorwonne Valke, maar nog ’n drie deur Fortuin het aan die span van die Kaap ’n oorwinning van 5-0 besorg. Fortuin se drie het sy totaal na 6 drieë in die toernooi gebring wat van hom die voorste driedrukker gemaak het. Die o.13 Bolandspan, wat verbasend beter uitslae behaal het in die nat toestande, het van meet af klei getrap toe hulle op dag een met 0-19 vasgeval het teen die Valke, en op dag twee verloor het teen Mpumalanga (10-14). Boland kon wel die wedstryd teen die Pumas gevat het toe hulle halftyd met 7-0 voorgeloop het. Met die wedstryd so te sê in die sakkie vir Boland, en met die telling op 10-7, het die jong Pumas ’n drie in die doodsnikke van die stryd gaan druk om die Bolanders van hul eerste oorwinning te beroof. Op die derde dag het Boland hul staal getoon deur drie drieë in te ryg teen die Luiperds om met 21-6 koning te kraai. Ongelukkig kon Boland nie op die laaste dag hul wenmomentum behou nie, toe hulle, weereens in die doodsnikke van die wedstryd, drie punte afgestaan het om met drie elk gelykop te speel. Die uiteindelike wenners van die toernooi was die Blou Bulle. Hulle het in die finale wedstryd vir Grens met 10-7 verslaan.
More
News
|