Skoppelmaai-welslae
2008-07-10
Jaco van Wyk
DIE o.16-spanne van die Westelike Provinsie en Boland het gemengde welslae behaal tydens die Grant Khomoweek wat verlede week by Ermelo gehou is. Op dag een van die toernooi het WP sommer in sy eerste wedstryd teen ’n tradisionele vyand, die Leeus, te staan gekom. WP het hul teenstanders met 19-15 geklop. Op dag twee het die Kapenaars weer teen ’n rugbykrag te staan gekom toe hulle die span van Vrystaat pak. WP het sy goeie vorm voortgesit om met 24-8 te seëvier. Op die finale dag het WP en die Blou Bulle ontmoet in wat as die finaal van die toernooi beskou kan word. Die Bulle het die klipharde stryd met 6-3 gewen om as die nie-amptelike kampioen gekroon te word. Die o.16-span van die Boland kan hulself ongelukkig ag dat hulle op die eerste dag nie die knoop deurgehak het teen Limpopo nie. Boland het met 22-24 vasgeval nadat hulle teen rustyd met 15-10 voorgeloop het. Op dag twee was die Griffons ook te sterk vir die Bolanders toe hulle die manne in swart met 0-14 getroef het. Boland het ten minste die finale dag van die toernooi op ’n hoë noot afgesluit toe hulle met 14-8 baas was teen Namibië.
More
News
|