CHARLIE moet êrens wees. Maar waar?
Vrydagoggend nog het Charlie, die swart Skotse terrier, met sy wolfhond-maat en sy menspa en -ma, Fritz en Maureen Joubert, in die arboretum aan die Bergrivier Boulevard baljaar.
Hy was so gelukkig, daar tussen die lang grasse. En toe verdwyn hy.
Die Jouberts het oral gesoek en geroep, maar van Charlie was daar geen spoor nie.
’n Voetganger het later vertel hoe hy gesien het ’n man in ’n groen Ford Escort het die swart hondjie in sy motor gelaai en weggery. Die telefoonnommer van sy eienaars is om sy nek.
Hy het al die motor in PaarlOos gesien.
’n Soektog is onmiddellik op tou gesit. Die Dierebeskermingsvereniging, veeartse en polisiestasies is dadelik in kennis gestel.
Foto’s van Charlie is afgedruk en oral in die dorp versprei. Maar tot vandag toe, sonder sukses.
“Waar sal Charlie slaap?” wonder ’n hartseer Maureen.
“Hy kruip elke aand onder my duvet in.”
Charlie is nie sommer enige werfhond nie, hy is ’n kind in die huis. En nou is sy plekkie leeg.
As iemand weet waar Charlie nou is, moet hulle asseblief vir Maureen skakel by 073-214-2464. Sy sal geen vrae vra nie, en R1000 aan die weldoener skenk - as Charlie tog net weer gelukkig in sy eie huis kan wees.