Talentsoektog vir Cultivaria
2008-07-17
MET net meer as twee maande voor die jaarlikse Cultivariafees is Paarliete in rep en roer om deel uit te maak van dié gewilde kunstefees. Vanaf 25 tot 28 September sal Paarl weer in die vermaaklikheidskern van die land omskep word en vanjaar wil die organiseerders ook die soeklig op plaaslike talent werp. Volgens feesorganiseerder Gerhard Meyer bied Cultivaria die perfekte verhoog om blootstelling te gee aan die ongelooflike talent wat inherent aan Drakenstein is. “Ons word jaarliks oorval met besoekers wat soek na vermaak en ’n kulturele ervaring van hoogstaande gehalte en voel sterk dat dit ook die ideale geleentheid is om met ons ryk bron van kunstenaars op eie bodem te spog.” Met hierdie doel in oog, doen die organiseerders tans beroep op plaaslike kunstenaars in verskeie genres om aansoek te doen vir deelname aan die kulturele kaleidoskoop van musiek, teater en drama. Die hoogtepunt van die talentsoektog is beslis die verskeidenheidskonsert wat op Vrydagaand 26 September, aangebied word. Die Local is Lekker konsert vind plaas in die VGK Huguenot se Strauss-saal en beloof om gehore op hulle voete te hê. Top talent in die Paarl word genooi om deel te wees van hierdie viering van plaaslike talent. Suksesvolle aansoekers sal die kollig met Idols-ster Jody en ook gewilde Bolandse kunstenaars soos die Kingston Rockers en bekroonde groep Ysterkoei deel. Ontluikende sterre met sang- of danstalent kan aansoekvorms afhaal by die Cultivaria-kantoor te Hoofstraat 132, Paarl. Vir meer inligting, skakel Velicia of Linelle by 021-872-9754.
More
News
|