Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Obsessie word GROOT

Obsessie word GROOT
 
2008-07-17


’n JONG Paarlse band, Obsessie met Als, is besig om groot spore te trap in die Afrikaanse rock-toneel.

Alhoewel hulle al met groot name die verhoog gedeel het, bereik die band ’n groot mylpaal Saterdag deur te open vir Van Coke Kartel wat by Laerskool Noord-Eind in die Paarl optree.

Die manne van Obsessie met Als, almal Gimmies, erken dat hulle graag gereken wil word as een van die land se grootste rockgroepe en dinge in die Afrikaanse musiekbedryf “nog ’n trappie hoër vat”.

Die ouens reken egter dat om hul band te onderhou nie die altyd die maklikste taak is nie.

“Mense sit jou baie op ’n skaal,” sê Evan Scheepers, baskitaarspeler vir die groep. “Hulle probeer jou band altyd met ander bands vergelyk.”

Hy wil nie hê dat mense Obsessie met Als net as “nog ’n Afrikaanse rockband” moet sien nie, maar as ’n unieke band met ’n unieke styl.

Kry hulle nog tyd vir skoolwerk en ander verpligtinge?

“Nee, nie eintlik nie,” sê Pierre van Zyl, sanger en kitaarspeler van die groep.

“Dis maar net tydens eksamens wat ons konsentreer op akademie en dan hou ons die eksamenroosters dop vir ’n tydjie tussendeur wat ons kan oefen.”

Heinrich skuif ywerig nader en sê: “Wel, as ons byvoorbeeld ’n show het Saterdagaand en ons skryf die Maandagoggend toets, dan los ons gewoonlik die toets en konsentreer op die show!”

Obsessie met Als is minder as ’n jaar oud en was voorheen bekend as Hoppalongcasidy. Die ouens bied vele redes hoekom hulle besluit het om ’n hele nuwe groep te begin in plaas van net die naam verander.

“Die ding van Hoppalongcasidy was dat daar altyd baie Engelse mense na ons shows toe gekom het, want hulle het gedink dat aangesien ons ’n Engelse naam het, ons ’n Engelse band is,” sê Pierre van Zyl.

“Ons het toe besluit om net oor te begin met Obsessie met Als en mense dadelik die produk te gee wat hul verwag. Hoppalongcasidy was baie punk en met Obsessie wou ons ’n meer klassieke rockklank gehad het,” sê Heinrich.

“Toe ons die naam verander het, het ons dadelik agtergekom dat meer mense opdaag.”

Die ouens erken dat hul baie opgewonde

is om saam met Van Coke Kartel, een van die grootste name in Suid- Afrikaanse rock, te speel,

Verder beplan hulle om later in die jaar genoeg geld bymekaar te skraap om nog ’n liedjie op te neem in ’n professionele ateljee en ook om ’n musiekvideo te maak.

Om self te sien waaroor al die oproer gaan, ondersteun gerus hierdie Saterdagaand Obsessie met Als by Laerskool Noord-Eind. Die deure open om 20:00 en die toegang is R30




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za