Dit gis oor dié wynboer
2008-07-17
Malané Bosman
DIT gis behoorlik op Wellington, en dis nie net in die wynkuipe nie. Dit gaan oor wie nou eintlik, en waar, die mooi, blonde wynboer is wat Maandagaand op televisie in haar kelder verskyn het as deelnemer in Boer soek ’n Vrou, ’n realiteitsreeks wat Maandag op KykNET geloods is. Nicolette het darem ’n paar brokkies oor haarself bekend gemaak in die eerste aflewering, wat in September hervat. Sy is van Wellington, 31 jaar oud, ’n wynmaker van beroep, en woon op ’n Bolandse wynplaas. “Dis vir enige vrou maar moeilik om aan die begin jou voete te vind in die wynbedryf, maar met feminine charms kan jy die meeste mans hanteer en jou spore in die bedryf ooptrap,” sê sy met ’n innemende glimlag voor die kamera. Nicolette is baie lief vir diere, vir honde en katte. “Ek het 14 honde en hulle slaap saam met my in die bed. Die man wat in my huis kom, mag nie aan my diere raak nie.” Die ideale man moet ’n sin vir humor hê en geduldig wees. Hy moet bereid wees om saam met haar en die honde deur die lewe te gaan. Nicolette hou van vriende en saamkuier. Sy is ’n buitelugmens wat liewer in die reën rondloop as om in die huis te sit. “My ideale man moet saam met my dinge doen, en darem ’n paadjie deur die wingerd kan rol,” sê sy. As hy nou en dan kan kook, eerder as braai, is hy naby aan perfek. “Hy moet saans lekker met my gesels, en nie net sit lees en televisie kyk nie. Ons moet fietsry en draf en alles saam doen.” So wag sy nog vir haar ridder op sy wit perd, terwyl sy intussen met haar honde deur die wingerde draf. Vir die realiteitsreeks sal die tien deelnemende boere wag op liefdesbriewe met kleurfoto’s van die publiek wat kykNET voor 28 Julie per pos of e-pos moet bereik. Elke boer sal tien potensiële maats uit die briefskrywers kies om beter te leer ken. Die TV-kameras sal die boere en hul metgeselle volg as hulle saamkuier en op afsprake gaan. Besonderhede is op www.kyknet.co.za en www.landbou.com.
More
News
|