Sopkombuis op Saron
2008-07-17
’n SOPKOMBUIS wat eenkeer per maand sop aan behoeftiges voorsien, is onlangs in Saron onder leiding van Licher Louw op die been gebring. Louw, wat reeds betrokke was by projekte teen misdaad asook ’n sopkombuis in Bishop Lavis, het die nood op Saron raakgesien. Die sopkombuis poog om sop aan alle behoeftiges te voorsien op pensioendag. Dit sluit in mense wat toelaes ontvang vir ouderdom, kinders en ongeskiktheid. Aanvanklik is begin met ses potte sop wat gekook is deur vrywillige ouers. “Hierdie ses potte is natuurlik hopeloos te min, maar soos die spreekwoord sê, klein begin is half gewin,” meen Louw. “Ons doen ’n beroep om hulp van donasies en samewerking van die breë gemeenskap sodat ons meer mense ’n koppie warm sop en brood kan gee. “Ons wil ook hê dat mense van ons moet weet as ons aanklop vir donasies en ondersteuning, sodat hulle weet dis vir ’n goeie doel.” Louw bedank almal wat vervoer verskaf asook die ouers wat sop kook. Daar word nie net na mae gekyk deur Licher Louw nie. Mense met dwelm- of alkoholprobleme, is ook vry om haar te kontak. Vir meer inligting, skakel haar by 071-137-8716, of Helene Solomon by 082-467- 3253.
More
News
|