Roei of stap? (Editorial)
2005-07-07
WATER is maar ’n teer puntjie in die Wes-Kaap, wat die afgelope twee jaar onder droogte deurgeloop het. Op die oomblik is dit die kanoroeiers wat soos weerprofete elke wolkie en windverandering bestudeer.
Die rede? Volgende week is weer tyd vir die Bergrivier kanomarathon en die vlak van die rivier is uiters belangrik vir strategiese beplanning.
Só oorweeg een van die groter roeiers reeds om te onttrek, want sy gewig veroorsaak dat sy kano vinnig probleme optel met klippe in die rivier.
Daar moet darem bygesê word dat die rivier se vlak hoër is as die afgelope twee jaar.
In 2003 is die wegspring selfs verskuif na Hermon, om die ergste vlak water en obstruksies te vermy.
Die organiseerders sê die watertafel is vanjaar hoër as ander jare, wat maak dat die rivier se vlak meer standhoudend is. Daar is ook ’n redelike invloei vanaf die sytakke.
Hoewel die weerburo geen reën vir Paarl vir die volgende week voorspel nie, is hulle nogtans hoopvol dat daar dalk ’n paar millimeter uit syriviere kan kom.
Kom ons hoop vir die beste, want die ‘Berg’, met al sy aanhangers en ondersteuners, is elke jaar ’n groot inspuiting vir die plaaslike ekonomie.
More
News
|