Hillcrest hardloop oor Hawston
2008-07-17
HILLCREST UNITED het Saterdag op Pelikaanpark weereens opwindende hardlooprugby opgedis toe hulle vir Hawston met 35-8 afgestof het. Die Blou Trein was onstuitbaar en het in alle fasette van die spel koning gekraai. Op die verdediging het die tuisspan vir Hawston voos geduik. Die lostrio van Hillcrest, Adam Arendse, Adi Swartz en Gershwin van Rooyen, het hul teenstanders totaal oorskadu. Ook die tuisspan se voorry was gans te sterk vir hul direkte opponente. Die stut Donovan Adams is as die speler van die wedstryd aangewys nadat hy en sy medestut, Francois McKenzie, deurgaans sterk lopies ingekry het. Hillcrest het vyf drieë in hul verwoesting oor hul opponen- te ingeryg. Hillcrest se drieë is gedruk deur S Benn (2), Gerswin Heugh, Adam Swartz en Adam Arendse. Conroy Gertse het twee vervyfskoppe en twee strafdoele aangeteken. Hillcrest se tweede span het met 19-10 geseëvier en die derde span het met 15-5 gewen. Hillcrest se volgende wedstryd is Vrydagaand op hul tuisveld, Pelikaanpark. Die wedstryd sou op 5 Julie plaasgevind het, maar was uitgestel weens slegte weersomstandighede.
More
News
|