NÁ ’n rekord aantal 178 inskrywings vir die derde jaarlikse SA Terroir Wyntoekennings, het twee wynkelders vanjaar hul merk gemaak deur elk twee nasionale wenners op te lewer, naamlik Grande Provençe in Franschhoek en Nuy in Worcester.
Grande Provençe het die toekenning vir Top Cabernet Sauvignon ontvang met hul Grande Provençe Cabernet Sauvignon 2005 en Top Chardonnay met hul Grande Provençe Chardonnay 2006.
Beide hierdie wyne is gesertifiseer as Wyn van Oorsprong Franschhoek wyk. Boonop het beide wyne van die hoogste punte behaal onder al die inskrywings.
Nuy Wynkelder het weer Suid-Afrika se hoë gehalte muskadel wyn vertoon met die Nuy Wit Muskadel 2005, die Top Dessertwyn, terwyl die droë Nuy Colombar 2008 gekeur is as die Top Colombar.
Die Simonsberg/Paarl wyk was die oorsprong van twee nasionale wenners, die Vrede en Lust Viognier 2008 (Top Viognier) en Anura Malbec 2005 (Top Malbec).
Die Wellington wyk het vir die tweede jaar agtereenvolgens die Top Pinotage verskaf, weer van Doolhof Landgoed, die Signatures of Doolhof Pinotage 2006.
Die Top Sauvignon Blanc was toegeken aan die Kumkani Lanner Hill Single Vineyard Sauvignon Blanc 2007 (Darling distrik) en die Top Vonkelwyn aan die Hendrik Lodewyk Cap Classique, van Du Preez Landgoed in die Breedekloof.
Die Top Natuurlike Soetwyn is toegeken aan die Lord Neethling Weisser Riesling Noble Late Harvest 2006 van Neethlingshof Landgoed in Stellenbosch.
SA Terroir Wyntoekennings, in samewerking met die Wyn- en Spiritusraad, pas streng reëls toe oor die deelname van slegs wyne wat gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ’n spesifieke wyk, landgoed of enkelwingerd.
“Sedert al die streng kwotastelsel-reëls oor wingerdverbouing in gebiede jare gelede gestop is, het verskeie wynbougebiede ontluik as puik wynterreine,” sê Marius Labuschagne, direkteur van die toekennings.
“Die oesjare en beskikbaarheid van wyn sal altyd verskil jaar na jaar. By die 2008 SA Terroir Wyntoekennings het ons almal saamgestem dat Shiraz en Chardonnay die mees kompeterende kategorieë was. Baie uitstekende wyne is ingeskryf en dit was moeilik om die wenners aan te wys,” sê Charl Theron, koördineerder van beoordeling.