Lekker party gehou met belastingbetaler se geld 2008-07-24
EK wil ook my misnoeë uitspreek oor die verjaarsdagparty vir Mandela wat op 18 Julie gehou was.
Dit was ’n absolute vermorsing van die belastingbetaler se geld, terwyl talle inwoners van die vallei in ondraaglike situasies lewe ná die afgelope vloede.
Ek kan net nie verstaan dat mense wat in hoë posisies geplaas is, nie hul prioriteite ken nie.
Gaan kyk gerus, raadslede, hoe swaar ons mense in dié areas kry.
Sal dit nie beter gewees het om R350 000 te spandeer om armoedeverligting te bring nie?
Die Raad het ’n begroting vir noodsituasies, nie vir partytjies nie.
Nie lank gelede nie is ’n soortgelyke partytjie gehou met die inhuldiging van die Springbokrugby-afrigter wat ook duisende rande van die belastingbetaler se kant gekos het.
Aan die een kant ly die nasie en aan die anderkant hou die ‘fat cats’ partytjie. Onthou, julle gaan diegene wat nou so ly, se stem eendag in die toekoms nodig hê.