Kommer oor misdaad
2005-02-28
MEER as 220 Wellington-inwoners van veral Berg-en-dal, Uitsig en Ranzadale, het verlede Woensdagaand in die skoolsaal van Hugenote Laerskool saamgetrek om met lede van die Wellington SAPD te gesels oor die misdaadsituasie in hul woonbuurte.
Aspekte soos verbeterde kommunikasiekanale met die SAPD, samewerking tussen die publiek en die polisie om misdaad te bekamp, asook 'n moontlike buurtwagstelsel is uitgelig.
'n Beroep is gedoen dat mense toenemend weer die oë en ore ook van hul bure sal word, en verdagte persone sal rapporteer.
Die vergadering volg kort na die moord op dr Lizbé Smuts-Smith twee weke gelede.
Organiseerder Deon van Rooyen het verduidelik dat hoewel hierdie skokgebeurtenis inwoners geruk het, so 'n vergadering reeds 'n geruime tyd oorweeg is omdat inbrake in hierdie woonbuurte ernstig toegeneem het.
Die plaaslike polisiekorps is onder meer verteenwoordig deur stasiekommissaris superintendent Nelson Govender, insp Eugene Munnik van die Misdaad Inligting Analise Sentrum (MIAS) wat misdaadstatistiek ontleed, kapt Carine le Grange van die Misdaadvoorkomingseenheid, en kommunikasiebeampte insp Jonty Rhode.
Patrick Abrahams, ondervoorsitter van die Wellington Gemeenskapsforum (GPF), was ook teenwoordig.
Sterk menings is uitgespreek teen stygende voorvalle van veral inbrake, met positiewe én negatiewe kritiek op die Polisie se hantering daarvan.
"Dit is 'petty crime' wat nou gelei het tot moord," het 'n vroulike lid van die gehoor gesê.
In sy spreekbeurt het supt Govender beklemtoon dat die plaaslike polisiekorps van 130 lede wat skofte werk as speurders, administratiewe beamptes of met sigbare polisiëring, hul bes doen met die middele tot hul beskikking.
Volgens hom kan dieselfde strategieë nie gebruik word vir die uiteenlopende misdaadprioriteite van die dorp se verskillende woonbuurte en plase nie, wat dus gefokusde polisiëring bemoeilik.
Aan die een kant is daar eiendomsverwante misdade in die meer welvarende deel van die dorp, wat inbrake uit huise en motors insluit, asook winkeldiefstal.
Aan die ander kant is daar geweldsmisdade soos verkragtings, ernstige aanrandings en moord wat veral met alkoholmisbruik verband hou.
Terwyl sigbare polisiëring 'n beduidende effek op inbrake het, is misdaadvoorkomingsaksies soos die toeslaan op smokkelhuise en inligtingspraatjies by skole en kerke metodes om aanvalle teen mense te verminder.
Polisiereserviste en die nege buurtwagte wat uit lede van die gemeenskap bestaan en by die GPF geaffilieer is, word ook by hierdie sogenaamde brandpunte ingespan. Een van hierdie buurtwagte, Weltevrede, bestaan reeds vyf jaar net uit vrywilligers.
"Dit is bitter moeilik om sigbare polisiëring elke minuut van die dag te kan doen," het supt Govender beklemtoon.
Hy het inwoners aangemoedig om groter verantwoordelikheid te neem vir hul eiendom deur te sorg dat deure en hekke gesluit is, en nie besittings oop en bloot in motors op straat te los nie. "Diewe is opportuniste wat rondloop en kyk vir geleenthede," het hy gesê.
'n Buurtwagstelsel vir hierdie woonbuurte het sterk steun gekry van die gehoor. Praktiese implikasies soos finansiële ondersteuning en logistiek is egter uitgewys deur Noorder-Paarl Buurtwag se Robert Larke.
Omdat hierdie 24-uur diens, wat spog met 'n 99% afname in misdaad in Noorder-Paarl sedert dit drie jaar gelede begin is, finansieel ondersteun word deur lidmaatskap van inwoners, is dit geregistreer as 'n sekuriteitswagstelsel. Inwoners doen egter nie self patrolliediens nie.
Tydens die vergadering is 'n komitee saamgestel om die pad vorentoe te bespreek en korttermynaksies te loods.
More
News
|