Pniel swoeg vir sege
2008-07-24
IN ’n spannende wedstryd moes Pniel Villagers Saterdag, op sy tuisveld, alles in die stryd werp om ’n vasbeslote Kuilsrivier met 13- 10 te klop. Die Kuile het baie geleenthede gehad om punte aan te teken, maar swak hanteerwerk en verkeerde besluitneming het teen die besoekende span getel. Die tuisspan het tot en met die sestigste minuut van die wedstryd gerieflik met 10-0 voorgeloop waarna Kuilsrivier met ’n verbete aanslag vorendag gekom het en twee vinnige drieë aangeteken het om gelyk te trek met 10-10. ’n Strafskop deur die senter Stefanus Cedras het egter aan die tuisspan ’n voorsprong van 13-10 punte besorg. Drie minute voor die eindfluitjie het Kuilsrivier ’n strafskop voor die pale gekry en om ’n onverklaarbare rede het die kaptein besluit om ’n tikskoppie te neem, in plaas daarvan om na die pale te skop om die wedstryd gelykop te laat eindig. ’n Gelykopuitslag sou immers ’n ware weergawe van die wedstryd gewees het. Pniel het oor die algemeen nie ’n goeie wedstryd gehad nie. Die span het egter karakter getoon deur wel die knoop deur te hak, te danke aan die tuisspan se goeie verdediging. Cedras was aan die voorpunt van sy span se verdediging en het by twee geleenthede sekere drieë gekeer. Rustyd was die tuisspan met 5-0 voor. Garland Alberts en Cedras het Pniel se drieë gedruk.
More
News
|