Kavaliers nié verneder
2008-07-24
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers lê tans heel onder aan die Curriebeker punteleer nadat hulle Saterdagmiddag met 10-26 vasgeval het teen die Blou Bulle op Boland-stadion. Hoewel die Kavaliers veel meer veggees tot die speelveld gebring het X teen die Bulspan wat nou bo aan die punteleer lê X wag daar nog harde werk voor vir die manne in swart. Die rustydtelling was 19-7 in die guns van die besoekers. Die Kavaliers het goed verdedig en hul teenstanders telkemale hard in hul spore gestuit. Die Bulle het egter die fases goed opgebou en die Kavaliers so nou en dan aan die slaap gevang. Op die aanval het Boland nie heeltemal genoeg vrae aan hul teenstanders gestel nie. Die kere wat hulle wel die praatwerk gedoen het moes die Bulle hul storie op die verdediging ken. Sodoende het Renfred Dazel ’n pragdrie gedruk nadat die Bolanders hul teenstanders met goeie agterlynspel geklop het. Boland het voorlangs weereens sterk vertoon, met die agtsteman, Dries van Schalkwyk, wat ’n doring was in die vlees van sy teenstanders. Justin Peach het sy naam ook op die telbord gevoeg met ’n straf- en ’n doelskop. Die Kavaliers kort miskien net ’n knippie selfvertroue en ’n bietjie meer konsentrasie op die speelveld, want oor die vermoë om te wen beskik die Wellingtonners beslis. Die Bulle se drieë is gedruk deur Marius Delport, Wynand Olivier, Morné Steyn en Akona Ndugane. Steyn het drie van sy span se vier drieë verdoel.
More
News
|