Onlangs het die elektriese substasie in Daljosafat deurgeloop, toe diewe deur die heining gesny het en metaal-apparaat ter waarde van duisende rande gesteel het.
Die polisie het op dié gesteelde goedere afgekom tydens ’n roetine-patrollie in Jan van Riebeeckweg, Daljosafat.
Hulle het drie verdagtes gesien wat ’n munisipale vullisdrom in die rigting van ’n skroothandelaar in Daljosafat gestoot het.
Toe die polisie stilhou om die drom te ondersoek, het die verdagtes die pad gevat.
In die drom was die toerusting wat by die substasie gesteel is, asook koperkabels wat by ’n besigheid gesteel is.
Maar hierdie is net ’n druppel in die emmer in vergelyking met metaal wat daagliks gesteel word.
Skrootdiefstal kos plaaslike besighede derduisende rande elke jaar, om nie te praat van Telkom-kabels wat gesteel word. Volgens bronne het Telkom landwyd sowat R863 miljoen verloor weens koperkabeldiefstal tussen 1 April 2007 en 31 Januarie 2008.
Mangatdeksels, koper deurknoppe en nommers, en selfs die historiese gedenkwaardigheid-plate teen geboue se mure. Enige stukkie metaal waarop hierdie diewe hul hande kan lê, word gesteel.
Vir die polisie is dit ’n voortdurende kopseer.
En met die stygende prys van koper, wat onlangs rekordhoogtes ingeskiet het, duur hierdie misdaad roekeloos voort.
Om hierdie situasie nog verder te versuur, ten spyte van die feit dat die Wes-Kaap geen kopermyne het nie, word daar miljoene rande se koper van hiér na China uitgevoer.
Volgens die polisie is een van die groot probleme in die bekamping van metaaldie- we, verouderde wette wat dit baie moeilik maak om hierdie diewe suksesvol te vervolg.
En in die geval dat iemand wel gevonnis word, is die vonnis baie lig.
Die vinger word direk gewys na skroothandelaars wat na bewering nie die wet- te nakom en voorgeskrewe registers hou met al die inligting van die skrootverkopers nie.
Tans word daar druk op die regering uitgeoefen om die nuwe voorgestelde Wet op Tweedehandse Ware te wysig.
Hierdie wet sal al hoe meer druk op tweedehand- se handelaars, insluitend skroothandelaars, uitoefen om volgens streng wette handel te dryf. Oortreders wat van die paadjie afwyk, sal tronkstraf in die gesig staar.
Maar, reken deskundiges, hierdie is nie genoeg nie.
Hulle is van mening dat skroothandelaars gereguleer moet word om strenger beheer op hulle uit te oefen.
En totdat ’n oplossing hiervoor bekragtig word, sal die genadelose stropery steeds voortgaan en talle besighede, asook die publiek lam lê.
* Metal thieves continue their tricks on a daily basis.