Diewe teiken boere
2008-07-24
Lise Beyers
ASOF boere nie genoeg probleme in die gesig staar nie, word hulle nou ook van hul diesel beroof. Talle boere in die Paardeberg-omgewing, asook in Groot Drakenstein, was die afgelope paar maande slagoffers van dieseldiewe. Die meeste plase in dié gebied het dieseltenks wat ’n kapasiteit van 2000 liter het. Met die huidige prys van hierdie vloeibare goud, is die waarde hiervan ’n hele R23 060. Nou lyk dit asof diesel snags eenvoudig voete kry en spoorloos verdwyn. Een van die slagoffers van hierdie soort diefstal is Frans le Roux van Slent-plaas. Oor ’n tydperk het hy ’n verlies van sowat 4000 liter diesel gely. Le Roux het gesê dat, alhoewel hy sy dieseltenk beveilig het, het die diesel steeds verdwyn. “Ek het ’n plaat en slot oor die kraan geplaas sodat dit nie getap kan word nie. Maar my diesel het aanhou verdwyn en ek kon dit nie verklaar nie. “Maar ek het toe agtergekom dat die diewe steeds die kraan van onder die plaat oopdwing met stokke.” Volgens Le Roux word die diesel nie op een slag gesteel nie, maar stuk-stuk. “Dit sal voorkom dat diewe met 20 liter kanne hier aankom en dit so wegdra. As jy twee sulke kanne op een slag wegdra, dan het jy reeds byna vyfhonderd rand in die sak.” Op ander plase is die spoor van kruiwaens gevind, wat oënskynlik gebruik is om kanne weg te karwei. By nog ’n boer in die Paardeberg, Francois Joubert, is leë kanne in sy wingerd gevind, wat vermoedelik gebruik is om die diesel op sy plaas te steel. Die diesel is vermoedelik toe in groter houers op ’n voertuig oorgetap, en die diewe het hiermee soos mis voor die son verdwyn. Hierdie diewe het in een nag 2110 liter diesel van Joubert gesteel. Le Roux het nou gesê dat hy sy dieseltenk met ’n geëlektrifiseerde heining moet omhein, om te keer dat hy nog verliese ly. “Hierdie waardevolle produk kan nie verseker word nie.” ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hulle alle leidrade ondersoek, asook die moontlikheid dat ’n sindikaat verantwoordelik is vir hierdie diefstalle. “Dit bly steeds ’n tameletjie om te ondersoek, weens bitter min leidrade wat op die toneel agtergelaat word.” * Farmers are losing thousands of rands due to diesel theft.
More
News
|