MAN, het ek nou lekker gelag toe ek die berig lees van die werkers wat kla dat hulle nie na Madiba se party genooi is nie - “we, the ones that do the actual work, were left out in the cold”.
Watter skaamtelose vermetelheid!
Dis darem seker nie die spannetjies wat ek so langs die pad sien niksdoen, wat so kla nie? ’n Klassieke voorbeeld eens was ’n groepie van vier op die middelman van die Hoofstraat in Suider-Paarl, elkeen met implement onder sy beheer: een lees tydskrif, een draai ’n sigaret, nog een staan en beduie om gewig aan sy storie te verleen, en die vierde een... hy werk darem.
So kan ek talle soortgelyke gevalle van openlike loodswaaiery in herinnering roep.
Dit laat my dink aan die spannetjie wat uitgery word na hul werksplek, net om daar agter te kom hulle het die grawe vergeet.
Toe die grawe per radio aangevra word, laat weet die stoorman: “Al die grawe is al uitgeboek, julle moet maar vandag op mekaar leun”.
Nee, kêrels, kla eerder oor die feit dat nie minder nie as sewe amptenare en raadslede van onse munisipaal in Ghana gaan rondstaan het, terwyl daar, soos julle self sê, werk is wat gedoen moet word: 1500 afgevaardigdes uit 30 lande = 50 per land, en Drakenstein stuur 7 uit daardie 50.
Go figure!
Nelis Kruger