Galakonsert om die draai
2008-07-31
DIE Frank Pietersen Musieksentrum bied op 16 Augustus om 19:30 weer sy jaarlikse Galakonsert in die Paarl Stadsaal. Musiekliefhebbers weet al dit is ’n konsert wat ’n mens nie moet misloop nie. Hierdie jaar het die sentrum uitgebrei en sal die splinternuwe Frank Pietersen Kinderkoor onder leiding van Caren Bosman ook optree. Hierdie koor bestaan uit die pragtigste kinderstemme gekies uit Paarlse en Wellingtonse laerskole. Klein Nederburg Sekondęr se koor sal die gaskoor wees by hierdie spoggeleentheid. Benewens hulle eie optrede sal hulle ook saam met die kinderkoor en die Frank Pietersen Volwassekoor in ’n massakoor optree in die opvoering van die bekende Xhosa liedjie “Thula Thula”, spesiaal deur Chris Jeffery verwerk vir die Frank Pietersen Jeugorkes, Afrika marimbas en koor. Chris het ’n besonderse verwerking van hierdie lied gemaak vir die groep wat verlede jaar na Duitsland getoer het en dit daarna verwerk. Behalwe vir die jeugorkes sal ander groepe van die sentrum ook optree en musiek vanaf Corelli, Beethoven en Tchaikovsky tot by filmmusiek (Alladin) en die bekende “Blouberg se Strand” sal gehoor kan word. Die bekende Paarl sangeres en nuwe sangonderwyseres van die Frank Pietersen Musieksentrum, Jo-Nette Lekay, sal ook optree. Die aand belowe om byval te vind by elke musiekliefhebber, oud en jonk. Kaartjies teen R40 kan gekoop word by die sentrum se kantoor of by die deur. Daar sal ook verversings te koop wees gedurende pouse. Vir meer besonderhede, skakel 021-872-2123 of 021-872-2124.
More
News
|