Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Netwerke teen misdaad

Netwerke teen misdaad
 
2008-07-31

Lise Beyers

"GENOEG is genoeg.”

Met hierdie woorde het oudpolisieman Attie Barnard onlangs besluit om die gemeenskap van Wellington bymekaar te bring en sodoende misdaad te help bekamp.

Barnard was ’n gesoute polisieman voordat hy in 2001 die Poliesiediens vir die privaatsektor verruil het.

Hy het sy eie IT besigheid in Wellington op die been gebring, maar het steeds weens sy polisie-agtergrond sy hand op die pols van misdaad gehou.

“Ek het gevoel dat dit krities noodsaaklik geword het dat ons as ’n gemeenskap saam betrokke raak by die bekamping van misdaad.

“Elke individu het die vermoë om ’n rol te speel in misdaadbekamping en ons kan dit slegs doen as die gemeenskap behoorlik ingelig is van die ware omvang van die misdaadsituasie in ons dorp.”

Hy het die Wellington polisie genader oor sy planne, sowel as die Sakekamer en die gemeenskapspolisieforum, en almal was baie opgewonde oor die projek.

Barnard se inligtingstelsel is begin deurdat hy ’n nuusbrief gestuur het aan al sy kontakte per epos.

Die netwerk het toe so vinnig gegroei, dat binne minder as ’n maand daar 2500 lede betrokke geraak het deur die epos-nuusbrief.

Hierdie lede is nou direk in verbinding met mekaar en hulle deel inligting in verband met misdaad, verdagtes, sosiale bedreigings en enige ander inligting wat verband hou met dié aangeleenthede.

“Dikwels word baie misdade nie eens by die polisie aangemeld nie, en dit is ’n fout. Ons moet weet wat aangaan en wat die gevare in ons gebied is.

“As ’n gemeenskap het ons begin wegbeweeg van mekaar af, en in talle gevalle weet mense nie eens wat die naam van die persoon is wat langs hulle woon nie.

“Ons weet nie wat om ons aangaan nie, en probeer wegkruip van die werklikheid. Terselfdertyd dink ons dat ons nooit deur misdaad geraak gaan word nie.

“En wanneer dit wel gebeur, dan blameer ons vir almal behalwe onsself.”

Barnard beoog om die gemeenskap bymekaar te bring deur die netwerk, en inligting te deel oor enigiets wat van toepassing is op die veiligheid van inwoners.

“Dit maak nie saak hoeveel polisiemanne op die straat is nie of hoe veilig ons wonings is nie, die kriminele elemente sal steeds hul kanse vat.

“Die beste kans wat ons het om te oorwin, is om ’n skakeling te hê met ons bure.”

Barnard is van plan om binnekort ’n webtuiste te skep, asook ’n selfoondiens, wat vir alle lede dadelik in kennis sal stel wanneer daar ’n probleem opduik, soos ’n voertuig wat gesteel is of ’n inbraak. Sodoende word die gemeenskap in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.

“Ideaal gesproke hoop ek dat so ’n projek in ander dorpe soos Paarl en Stellenbosch gevestig word, en dat al die Bolandse dorpe met mekaar kan skakel oor misdaad en saam op die uitkyk sal wees vir misdadigers.”

Hy kan gekontak word op misdaadinligting@gmail.com.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za