Roses versterk greep op titel
2008-07-31
ROSES UNITED het verlede Saterdag vir Abbotsdale oortuigend geklop met 31-18 in ’n Boland Premierliga-wedstryd op Pelikaanpark. Die Rose het sodoende hul wurggreep op die Premierliga-kroon verstewig. Die Rose het uit die staanspoor aanvallende spel gelewer wat gou-gou beloon was met ’n puik drie deur Cornel Hendricks. Hendricks se sentermaat, Lindile Skota, het daarna die manne van Abbotsdale onverhoeds betrap met ’n goeie systap wat uitgeloop het op ’n verspot maklike drie vir Roses. Ná rustyd het die besoekers met ’n terugvegpoging gekom en kort voor lank het die Rose met slegs een punt voorgeloop. Die Rose se kaptein, Franzil September, het sy manne egter bymekaar gehou en hulle het daarna vir Abbotsdale heeltemal oorhoops gehad met aanskoulike hardlooprugby. Hiertydens het die Rose twee drieë gedruk. Die drie van Justin Morgan het gekom ná ’n skitterende teenaanval wat geloods is vanuit die Rose se kwartgebied. Hendricks se tweede drie het gekom van goeie opvolgwerk deur Alvin Hugo. Garth April was suksesvol met drie doelskoppe. ’n Kenmerk van Saterdag se wedstryd was die goeie skrumwerk deur die Rose se sterk pak voorspelers. Die uitmuntende vertoning deur die voorspelers - insluitende die reserwes - het daartoe gelei dat die Rose verskeie vaskoppe gewen het. Roses het eerskomende naweek ’n loslootjie. Hul volgende wedstryd is op 8 Augustus teen Rawsonville in ’n aandwedstryd op Pelikaanpark. Die Rose se afrigter, Abe Davids, het laat blyk dat daar nie nou enige ruskans vir die manne is nie, aangesien hulle oor net meer as ’n maand aan die nasionale klubkampioenskappe op Stellenbosch gaan meeding. Oefeninge gaan dus soos normaal voort.
More
News
|