Hillcrest verloor rillerstryd
2008-07-31
ROBERTSON het Saterdag daarin geslaag om Hillcrest hul eerste nederlaag in die tweede ronde van die liga toe te dien toe hulle met 15-14 baas was in ’n rillerstryd. Die begeesterde tuisspan het vir Hillcrest, veral gedurende die eerste helfte, behoorlik in die losskrums opgekeil. Ná lemoentyd het Hillcrest stadig maar seker hul stempel op die wedstryd begin afdruk en beheer begin verkry. Met die waarnemende kaptein, Adie Swartz, aan die spits, gevolg deur Gerswin van Rooyen en die ou strydros, John Abrahams, moes die tuisspan verbete aan hul voorsprong klou. Die manne van Wellington het hard geveg en die Robertson doellyn in golwe aangeval. Veral die heelagter, Gerswin Heugh, het talle aanvalle van agter geloods en is skitterend ondersteun deur André Andrews. Met die blaas van die eindfluitjie was Hillcrest se poging egter tevergeefs en moes hulle tevrede wees met ’n eenpunt-nederlaag. Hillcrest se puntemakers was Andrews (een drie), Elzano September (twee strafdoele) en Heinie Albertus (een strafdoel). Hillcrest speel Saterdag weg teen Hamlets. Busse vertrek om 10:30 vanaf Mannies. * Die sokkerspan, Hillcrest Saints, was Saterdag op sy gevaarlike beste toe hulle vir DC Rangers met 6-1 geklop het. Morné de Vries het vier doele aangeteken. Die ander doele is behaal deur Jonwin Samuels en Givano Fransman.
More
News
|