Standards bly op die wenpad
2008-07-31
YOUNG STANDARDS het Saterdag hul segetog voortgesit deur ’n begeesterde Violets-span met 13-3 te klop. Die wedstryd was gekenmerk aan die twee spanne se rotsvaste verdediging, en Violets wat goed daarin geslaag het om Standards se gevaarlike agterlyn in toom te hou. Violets se Jeremy Klaasen het veral uitgeblink op die verdediging terwyl Tyron Uren ook beïndruk het - veral met sy vurige kraglopies. Violets se poging was egter nie genoeg vir die vlymskerp Emelio Brown nie, wat met ’n goeie breekslag vorendag gekom het om vir Conville Cleophas onder die pale te stuur vir die enigste drie van die wedstryd. Enrico Davey het oudergewoonte nie teleurgestel met sy skopskoen nie en altesaam twee strafdoele en ’n doelskop vir sy span behaal. Vir Standards het Dean Hendricks, Ferris Adams en Gerswin Hermanus ’n barshou gespeel. Standards se tweede span het met 20-0 geseëvier terwyl die derde span gewen het met 35- 15. Standards speel Saterdag weg teen Allandale op Drakenstein Gevangenis. Spelers kom om 12:00 bymekaar by die afrigter se huis in Beukesstraat waar vervoer gereël sal word. Violets speel Saterdag teen Windmeul United op Daljosafat. Wedstryde begin om 13:30. Alle spelers en oud-spelers word uitgenooi om nader te staan met aanloop tot die interskole derby wat op 20 September plaasvind.
More
News
|