Wellington ransel Black Leaves af
2008-07-31
DIE rugbyspan van Wellington was Saterdag in ’n verwoestende bui teen die besoekers, Black Leaves, toe hulle nege drieë ingeryg het teen die manne van Gansbaai. Die groot kenmerk van die wedstryd, wat die Wellingtonners met 57-3 gewen het, was die skitterspel deur die tuisspan se losvoorspelers en die vlymskerp breekslae van die senters. Wellington se dissipline was ook deurgaans baie goed en, met die span op die voorvoet het hulle in alle fasette van die spel oorheers. Die wedstryd het skaars begin toe die linkervleuel, David Peutner, in die hoekie gaan druk het. Kort daarna het die stut Shane Meier ook oorgebars vir sy span se tweede drie. Wellington se regtervleuel, Philip Potgieter, het sy naam ook op die telbord gevoeg toe hy afgerond het ná ’n skitterlopie deur die flank Julian Joubert. Kort voor rustyd het Philip Potgieter ook agter die doellyn gaan kuier, met Gansbaai wat in dié tyd slegs met ’n strafskop kon antwoord. Wellington het egter die laaste sê van die helfte gehad toe die puik flank, Junior Bester, ’n drie gaan druk het om die telling tot 29-3 te bring. Ná rustyd het Wellington die krane oopgedraai en nog vier drieë ingeryg. Morné Coetzee (kaptein en agtsteman), Jacques Rossouw (senter), Junior Bester (flank) en Roderick Claasen (skrumskakel) het elk ’n vyfpunter behaal. Willie le Roux het altesaam met ses doelskoppe na die pale geslaag nadat hy al die drieë in die tweede helfte verdoel het. Wellington se tweede span het Black Leaves se tweede span gemaklik afgestof met 54-3. Wellington se derde span het 71 punte aangeteken teenoor slegs vyf punte van Black Leaves se derde span om gemaklik die botoon te voer.
More
News
|