EK het die Drakenstein Munisipaliteit vanoggend geskakel nadat ek op my rekening gesien het dat die tydperk tussen die lesings aansienlik langer as ’n kalendermaand was.
Die vorige lesings was gedoen op 26 Mei en die nuutste lesings op 11 Julie.
Aangesien watertariewe bepaal word weens die hoeveelheid water wat jy gebruik, beteken dit dat jy weens hierdie langer tydperk heelwaarskynlik ’n hoër tarief as normaalweg sal betaal.
Ek is meegedeel dat weens die baie reën, die meterlesers nie die meters kon gaan lees nie.
Ek het aan haar genoem dat dit nie vir my ’n aanvaarbare verskoning is nie, want dit het seer sekerlik nie vanaf 26 Mei tot 11 Julie elke dag gereën nie.
Ek is seker daar moet ander redes vir hierdie laat lesings wees - dalk ’n personeeltekort?
Hierdie kwessie affekteer alle verbruikers in die Paarl.
Danie van Wyngaard